Nog een van die baie gereelde argumente wat die volgeling van Jesus Christus mee te make kry lui soos volg: “Ek kan nie ten volle seker wees dat Jesus regtig leef nie, want ek was nie daar om Hom te sien nie.“ Moet nie verbaas wees as jou kind tuis kom en vertel dat dit die argument is wat in hulle gesig gegooi is by die skool of oor ‘n melkskommel by die inkopie sentrum voor of na ‘n fliek saam met die vriende nie. Hoe gemaak met die argumetn? Hier volg ‘n manier om dit te hanteer: Met daardie argument moet ons dan tot die gevolgtrekking kom dat Hitler ook nie bestaan het nie. Om die waarheid te sê; omdat jy gaan argumenteer dat jy nie in die 2de Wêreld Oorlog was nie, het dit nie gebeur nie? Kom ek vra jou dan die volgende: Was jy in 1995 op Ellis Park toe die Bokke die wêreld beker gewen het? En in 2007 in Parys? Wat van 2019 in Japan? Goed, jy kan sê dat jy foto’s en videos en ‘n regstreekse uitsending gesien het. Hoe weet jy dit is waar? Dit kon gefotoshop wees? Jy was mos nie daar nie? Maar kom ons maak die argument maklik vir jou: wat van Apollo 11 se maanlanding? Was jy daar? So ek neem aan dit moes dan ook nie waar wees nie; want jy was nie daar nie en het dit nie gesien nie? Kom ons gaan verder terug; wat van die Groot Trek in 1838 of die Anglo Boere Oorlog? Het dit ook nie gebeur nie? Want sekerlik was jy tog nie daar om dit te sien nie? Maar kom ons keer terug na die Bybel. Ons weet dat daar talle meer artefakte is (dit is nou historiese dokumente en ander ornamente) wat oor Jesus se historisiteit en dan oor die Bybel se geskiedkundige akkuraatheid praat. So jou argument het geen gronde nie. Inteendeel, jou argument laat my dink aan die woorde van Jesus aan ongelowige Thomas in Johannes 20:29 – “Glo jy nou nadat jy klaar gesien het? Geseënd is hulle wat nie sien nie, en tog geglo het.“