Christenskap is maar net ‘n kopie

Daar is baie mense wat oppervlakkig na stukke uit die geskiedenis gryp en jou dan wil konfronteer dat Christenskap maar net ‘n kopie van ander gelowe is. By wyse van die Da Vinci Code fliek word beweer dat die Christen geloof basies ‘n kopie is van mitiese figure soos Mithras, Adonis, Osiris en Attis wat ook uit ‘n maagd gebore is, volgelinge gehad het, ‘n martelaars dood gesterf het en opgestaan het uit die dood. Maak seker dat jou kind die begin feite oor hierdie stellinge kan aanspreek. Dit kan soos volg gedoen word. In die eerste plek: Hoewel woorde of terme soos opstanding en doop in die mitologie godsdienste voorkom, is dit waar die ooreenkomste stop. Kyk maar na die verhaal van Osiris: Sy broer maak hom dood, kap hom op in 14 stukke en versprei dit oor die aarde. Sy vrou kry 13 stukke en bring hom tot lewe en dan word hy god van die onderwêreld. Ek dink ons sal saamstem dat dit drasties verskil van Jesus se vrywillige dood aan die kruis en wat dit vir die mens bewerk het volgens 1 Korintiers 15:3-8. Tweedens: Gebruik die Titanic voorbeeld – waaraan dink jy as ek jou vertel van ‘n Britse skip wat 3 duisend passasiers kon vervoer, ‘n top spoed van 24 knope gehad het en nie voldoende reddingsbote gehad het nie? En toe bots dit teen ‘n ysberg op haar eerste rys wat ‘n gat in die kant van die skip geskeur het, gesink het met 2 duisend passasiers wat hul lewens verloor het. Waaraan dink jy? Die Titanic, reg? Verkeerd. Hierdie is ‘n fiksie geskryf deur Morgan Robertson getiteld The Wreck of the Titan. Hy het dit 14 jaar voor die Titanic tragedie geskryf. So, hoewel die gebeure merkwaardige parallele het, ondermyn die fiksie nie die historiese realiteit van die regte gebeure van die Titanic nie. Net so het die parallele van mitologie wat voor Christus se tyd op aarde geskryf is en ontstaan het geen impak op die maagdelike geboorte,  lewe, dood en opstanding realiteit van Jesus Christus nie. Laastens, hoewel daar mitologies gedrewe godsdienste bestaan het voor Jesus aarde toe gekom het, is daar feitlik universele konsensus dat die konsepte van doodgaan en opstanding uit die dood eers ontstaan het ná die ontstaan van die kerk. So, dit is eerder dat die Christen geloof ander gelowe en stories beïnvloed het. Dit laat my dink aan die woorde van Petrus in 2 Petrus 1:16: “Ons het ons verseker nie op mites verlaat toe ons vir julle vertel het van die krag van ons Here Jesus Christus en sy terugkeer nie. Met ons eie oë het ons Hom in al sy koninklike prag gesien.”

Verwante Artikels & Video's