Een of ander tyd gaan jou kind in hierdie Post, Post Moderne samelewing van ons gekonfronteer word met die stelling dat “daar geen waarheid is nie.” En dan gaan die sogenaamde argument verder dat, omdat daar geen waarheid is nie, “wat vir jou waar is, is nie noodwendig vir ‘n ander persoon waar nie.” Vir enige persoon wat nog jonk in hulle geloof is, is so ‘n stelling baie intimiderend. Daar is eintlik ‘n baie eenvoudige manier om hierdie stelling die nek in te slaan. Dit begin by die punt om insig te kry in die vertrekpunt van die stelling. Die persoon wat hierdie stelling maak, doen dit gewoonlik vanuit die vertrekpunt om te bewys dat daar geen bewyse is vir die waarheid wat die Bybel kommunikeer nie. Sien jy al die ironie? Die einste persoon wat die stelling maak dat daar geen waarheid is nie, beroep hom op ‘n waarheid; naamlik dat daar geen waarheid is nie. Frank Turek en Norman Geisler gee goeie raad in hulle boek getiteld “I don’t have enough faith to be an atheist” vir hierdie situasie. Hulle noem dit die “Roadrunner effect”. As jy die Roadrunner prente ken, dan is die beeld waar die pad (of mat) weggeruk word onder die Cayote wat hom die heel tyd wil vang ‘n gereelde lagmagneet. Dit werk soos volg: Argument: “Daar is geen waarheid nie”, Reaksie: “Interessant. So dan beteken dit dat die stelling wat jy nou net gemaak het, ook nie waar kan wees nie. Met ander woorde; daar moet ‘n absolute waarheid wees.” So kan ons ook die stelling dat “jou waarheid is nie soseer my waarheid” hanteer. Dit gaan soos volg: Argument: “Jou waarheid is nie soseer my waarheid nie.” Reaksie: “So jou argument is dat alles relatief is?” Argument: “Ja.” Reaksie: “Met ander woorde jou argument het ook geen vaste punt om op te staan nie. En is daarom ook relatief, en dus nie waar nie.” En dan kan mens die “debat” afsluit met: “Wel, dit is duidelik dat die sogenaamde logika wat jy voorhou geen fondament vir jou gee om op te staan nie. Wil jy nie tog eerder jou argumente begin plaas op Jesus se woorde nie? Dit kan ek jou verseker: jy kan maar jou lewe op Hom waag. Kyk net na Sy woorde in Matteus 24:35: ‘Selfs al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal my woorde nog vir altyd vas bly staan.’”