Ons het die hele jaar aandag gegee aan een van die mees bekende figure in die Bybel. Een van die mees treffende waarnemings van Dawid is dat hy méns was. As jy deur die lewe van Dawid lees, word dit deurgaans duidelik dat sy lewe gesaai was met hoogtepunte – soos waar hy dans voor God en volk – en laagtepunte – soos waar Dawid skuldig is aan moord, leuens en egbreuk. Ons het gekyk na Dawid se optrede in tye wat almal op hom neersien omdat hy nog maar kind is, tye waar Dawid deur ondenkbare vrees moes gaan tot tye wat Dawid as leier bo almal uitgestaan het. Aan die einde van ‘n jaar wat ons die voorreg gehad het om in diepte na Dawid te kyk is dit belangrik dat elke ouer moet waarneem dat die vertelling van figure se verhale in die Bybel ‘n effektiewe manier is om vir ons kinders aan God voor te stel. Ons almal hou van stories. Kinders nog meer. Een van die groot geskenke wat God vir ons gee is die rykdom aan narratief wat ons in die Bybel kry. Vir kinders is dit een van die mees treffende metodes om hulle aan die God van Abraham, Isak en Jakob voor te stel. Vertel vir hulle die verhale van hierdie figure. Vertel vir hulle van die lewe van Dawid. Hoekom? Want soveel dele in die Bybel leen hulle daartoe om deur middel van vertelling die grond vrugbaar te maak vir die Heilige Gees om harte te verander. En die (Kersfees) kersie op die koek is dat hierdie nie net legendes en mietes is nie. Dit het regtig gebeur! Deur hierdie metode te gebruik – die vertelling van regte mense met regte en groot gate in hulle mondering – berei jy jou kind se vermoë voor om gouer ontvanklik te wees vir die gróót gedagtes van ‘n maagdelike geboorte, ‘n Redder wat die dood oorwin en ‘n Trooster wat elke oomblik by ons is, totdat Jesus ons kom haal. Maar meer oor hierdie onderwerp in die nuwe jaar. Vir nou: ‘n baie geseënde Christusfees vir julle almal!

Verwante Artikels & Video's