In Handelinge 17:11 lees ons dat die mense in Berea aandagtig na Paulus se prediking geluister het. Dit het nie net by luister gebly nie. Hulle het alles wat Paulus hulle vertel het “in die Skrifte ondersoek om te sien of dit is soos Paulus en Silas sê”. In Handelinge sien ons dat Paulus ‘n patroon volg om uit die Ou Testament aan te haal om die goeie nuus oor te dra. Die briewe wat Paulus skryf beklemtoon hierdie patroon verder. Uit hierdie vers in Handelinge 17 kan ons twee belangrike goed leer van die mense in Berea. In die eerste plek het hulle die Skrif, dit is nou die Ou Testamentiese geskrifte wat uit die wetsboeke (soos Eksodus en Deuternomium), profete (soos Jesaja en Esegiël), wysheidsboeke (soos Psalms en Spreuke) en die geskiedenis geskrifte (soos Konings en Kronieke), as die Woord van God wat gesag het beskou. En hierdie Woord van God was die maatstaf waarteen hulle alles gemeet en geoordeel het, selfs wanneer ‘n hoogs geleerde Farisiër soos Paulus met hulle kom praat het.
Die tweede ding wat Handelinge 17 van die aandagtige luisteraars in Berea verklap is dat hulle ‘n liefde vir die Woord van God gehad het. Om die Bybel elke dag te lees kan net kom vanuit ‘n begeerte en liefde om dit te doen…..
Geloofstroom se vertrekpunt is die Bybel. Ons erken en bely die Bybel as die Heilige Gees geïnspireerde Woord van God neergeskryf deur fylbare mense, maar onfylbaar in Sy verskyning as ink op papier. Dit is ons doel om kinders (en hul ouers) die gewoonte te leer wat die gelowiges in Berea vir ons gee. Maar is dit moontlik en Bybels gefundeerd om so ‘n doel na te streef in terme van kinders? Wel, in Handelinge 16 en 2 Timoteus 1 en 3 lees ons dat in die vroeë kerk daar voorbeelde was van ‘n kind wat kan glo en tot bekering kan kom. Hierdie drie gedeeltes handel oor die voorbeeld van Timoteus wat op ‘n baie vroeë ouderdom, deur die invloed en lering van sy ma, Eunice, en sy ouma, Loïs, blootgestel is aan die evangelie. Ons lees ook dat Timoteus die Heilige Skrif al van kleins af geken het. Indien jy nog twyfel, gaan lees gerus wat Jesus in Matteus 18 en Markus 10 oor kinders sê.
Ek en Emmie kan met lof tot die Here getuig hoe die Heilige Gees in kinders se harte werk – en dit is net verdere bevestiging van wat ons weet ‘n Bybels gefundeerde doelwit en opdrag is. Ons sien hoe die Heilige Gees werk wanneer ‘n graad R daarop aandring om hul eie Bybel na die byeenkomste te bring. Deur saam wees as gelowiges, saam lofprysing doen, saam eet (meestal pizza…) en saam praat en vrae vra werk die Heilige Gees in ‘n asemrowende manier om vir kinders nie net ‘n liefde te leer vir die Bybel nie, maar ook respek vir ‘n boek waaraan hulle kan vat en kan deurblaai. En só vertrou ons dat die woorde van Psalm 1 ‘n werklikheid sal word in die kinders se lewens – “Gelukkig is die mens……wat vreugde vind in die gebooie van die Here en dit dag en nag oordink…”
Beskou jy en jou huisgesin die Bybel as die onfylbare Woord van God? Rig julle jul lewens daarvolgens in? Ons gebed is dat julle hierdie twee kenmerke van die Berea gelowiges sal kweek tot eer van God.