Die Bybel het foute – regtig?

Ongelowiges gryp graag na die argument dat die Bybel foute het, en daarom nie vertrou kan word nie. Dit word dan ook as rede gebruik om sommer die hele Christen geloof te verwerp. As Christene bely ons dat die Bybel die Woord van God is, soos ons terreg lees in Johannes 1 onder andere. Verder verklaar ons dat die Bybel onfeilbaar is. So hoe help jy jou kind om ‘n aantuiging dat die Bybel vol foute is te hanteer? Hoe kan ek as Christen ‘n aanklag teen die akkuraatheid van die Bybel hanteer? Die hartseer ding is dat mense die Bybel afskiet nog voordat hulle die moeite gedoen het om dit regtig deurdagtig te lees. Wat wys ‘n nadere bestudering van die Bybel ons? Ons weet dat die oorspronklike geskrifte nie meer bestaan nie. Nou kan mens dadelik die Bybel afskiet? Nie so vinnig nie. Vanuit die magdom antieke manuskripte, (met ander woorde die kopieë wat van die oorspronklike geskrifte gemaak is), kan ons deur ‘n proses van deeglike kruis verwysing en vergelyking baie akkuraat die oorsproklike geskrifte saamstel. Verder, die foute wat daar wel in die manuskripte is, het te make met spelling en nie foute of teenstrydighede wat ons geloof, (of dan die feite van die historisiteit van byvoorbeeld Jesus), bestry nie. Byvoorbeeld: Die spelling van Johannes sal ‘n “n” ontbreek in sekere manuskripte. Dit beteken nie dat dit nie steeds Johannes is waarvan gepraat word nie. So die variasies wat ons in die Nuwe Testament kry is die meerderheid sulke “spelling gevalle”. Daar is dus geen noemenswaardige verskille nie. Waar daar wel noemenswaardige variasies voorkom is minder as 1% van die Nuwe Testament. ‘n Voorbeeld van ‘n noemenswaardige variasie is in Markus 16. In sekere manuskripte eindig die hoofstuk kort na vers 8. Terwyl in ander manuskripte daar nog ‘n vers 9 tot 20 is. Hoekom noem ons dit noemenswaardig? Want dit het te make met die kern van ons Christen geloof, Jesus se opstanding. Maar selfs in die korter-einde weergawe word daar genoem dat Jesus opgestaan het – dit word geprofeteer, die engel getuig daarvan en die graf is leeg. In baie van die Bybels wat jy sal kry sal al hierdie variasies in die voetnotas aangedui word. Die belangrike is dat daar geen variasies is wat die kern van die Christen geloof kan laat wankel nie. En verder, ook die Ou Testament is met groot presiesheid oor die eeue heen deur mense oorgeskryf in menige manuskripte. Hulle het ‘n baie gedissiplineerde proses gevolg. En Jesus gee ook gesag aan die Ou Testament wanneer Hy daaruit lees toe Hy op aarde was. Om die waarheid te sê; die Nuwe Testament is die mees geverifieerde historiese dokument van die antieke wêreld. En met Jesus en sy dissipels soos Petrus en Paulus wat herhaaldelik uit die Ou Testament aanhaal kan ons met gerustheid na die hele Bybel kyk as die onfeilbare Woord van God. Ek dink dit is net gepas dat ons hierdie punt afrond met Petrus se woorde in 2 Petrus 1:20-21: “Julle moet veral weet dat geen profesie van die Skrif ontstaan het deur die profeet se eie insig nie. Geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Inteendeel, dit was die Heilige Gees wat die profete God se woorde laat verkondig het.“

Verwante Artikels & Video's