Die belangrikste taak van ’n ouer is om vir hul kind te leer van die God van Abraham, Isak en Jakob. Dit is die belofte wat elke ouer maak wanneer hulle na die Here toe kom met hul pasgebore baba, ongeag denominasie of watter vorm die doop aanneem in daardie denominasie. Besef jy daardie verantwoordelikheid? Streef daarna om nie een oomblik verby te laat gaan waar jy jou kind leer van God nie. Hoekom die term “God van Abraham, Isak en Jakob”? Want dit bring die boodskap tuis dat hierdie God wat ons aanbid gister vir ons gesorg het, vandag vir ons sorg en al reeds die dag van more onder Sy beheer het. Ons het in die vorige gedeeltes gekyk na hoe hierdie teenwoordigheid van God deur Abraham se lewe bevestig was. En vanaf Genesis 24 tot 36 sien ons dieselfde God se bystand en teenwoordigheid deur die lewens van Isak en Jakob. Hierdie verhale gee ook baie geleentheid vir ’n ouer om die leer van God kreatief en meelewend te maak. Gebruik materiaal om harige arms te maak en blinddoek jou kind wat dan moet vat aan ’n boet of sus (wat Jakob voorhou) se arms voel. Vat ’n groot klip as kop kussing en gaan lê in die tuin terwyl jul reflekteer oor die belewnis wat Jakob met God gehad het by Bet-El volgens Genesis 28 en 35. Op sulke kreatiewe maniere koppel jy ervarings in jou kind se geheue vas wat jare daarna nog by hulle sal bly. Maar soos in die vorige dele al beklemtoon: maak seker dat jy deur die kreatiwiteit by die kern uitkom wat jou kind saam met hulle moet vat. Die kern is dat God altyd dieselfde is. Dat God voor die skepping al daar was, in beheer was en elke dag sedert die skepping in beheer is. So is Hy ook ten volle in beheer van die toekoms. Maar hierdie God van Abraham, Isak en Jakob is nie in beheer van alles op ’n afstand nie. Hy is intiem betrokke by ons almal se lewens. Ons sien dit byvoorbeeld in Genesis 24 waar God tot betrokke is in die soeke na ’n vrou vir Isak. So sien ons dit ook in God se betrokkenheid by Jakob se vrees om weer Esau in die gesig te jare nadat Jakob Esau uit sy eersgeboorte reg bedrieg het (Genesis 32 en 33). ’n Derde belangrike karakter van God om te leer deur al hierdie gedeeltes is Sy openheid en meelewing met ons. Hy laat toe dat ons met ons warboel van emosies na Hom toe kom. Hy laat toe dat ons met ons volle menswees na Hom toe kom. Van die slaaf van Abraham se stil afhanklike uitreik deur gebed na God in Genesis 24 tot die Jakob se desperate stoei met God in Genesis 32. Onthou; een van die mees blywende maniere hoe jy laasgenoemde karakter van God vir jou kinders kan demonstreer is dat jy self met sulke afhanklikheid en eerlikheid tot God bid tydens julle gesinsbyeenkomste.