Die God van genade en liefde

So wonderlik soos wat die skeppingsverhaal is, so tragies is die hoofstukke wat volg op Genesis 1 en 2. Ek het een keer vir my kinders gevra om soos wat hulle deur die Bybel lees, hulle in elke gedeelte moet kyk  of hulle die karakter van God kan raaksien. Genesis 3 is een van daardie treffende gedeeltes waar ons die karakter van God sien. Die sondeval wat ons in Genesis 3 lees is die verhaal van die mens wat nie na God geluister het nie. Die mens wat kies om eerder na ‘n bedrieër te luister as die God van die skepping wat tyd gemaak het om saam met die mense te wees en so baie van die mens gedink het dat Hy die mens aangestel het om oor Sy skepping te heers. Hoekom moes God dan so drasties optree toe die mens sondig? Daardie vraag word duidelik soos wat mens deur die Bybel lees. Maar om dit in ‘n neutedop saam te vat – God is heilig, en die glorie en heiligheid van God is só spesiaal en treffend dat dit enige iets wat buite dit probeer funksioneer sal verteer. Ek wonder baie keer hoekom die boek Levitikus nodig is om te lees, net om weer te sien hoe daardie boek vir ons ‘n blik gee op hoe onmoontlik dit is vir onheiligheid om naby God te kom en hoe God desnieteenstaande moeite doen om die mens te red. Ja, Genesis 3 vertel nie net van die tragedie van die skeiding wat die sonde tussen God en sy skepping gebring het nie, dit vertel ook van die karakter van ‘n liefdevolle God wat plan sien om vir die mens dit moontlik te maak om weer by Hom uit te kom. En hierdie genadebelaaide karakter van God weergalm deur die hele Bybel, van ‘n sondaar soos Kain (Genesis 4:15) deur al die teleurstelling van die volk Isreal wat God uit niks gemaak het nie, tot op ‘n koppie buite Jerusalem waar God homself opoffer om die woorde van Paulus in Efesiërs 3:8-13 ‘n loflied te maak. Vertel vir jou kinders Genesis 3 só. Ja, die mens het sonde en daarmee saam baie trane en pyn in die skepping ingebring, maar God het nie sy rug op die mens gedraai nie. Inteendeel, ons moet Genesis 3 vertel in die perspektief van die hele Bybel, want as Genesis 3 vertel word in verbintenis met dele soos Lukas 23 en Efesiërs 3, dan sien ons dit is ‘n verhaal van tragedie, deur die mens aangebring, maar dit is uiteinde ‘n verhaal van genade – van ‘n God wat oneindige liefde en aanvaarding vir ons het.

Verwante Artikels en Video's