Die erns van die sonde en verval wat die mens in God se skepping ingebring het moet nie onderskat word nie. Ek dink nie ons besef hoe sleg dinge op aarde was teen die tyd van Genesis 6 nie. Ten spyte daarvan het God toegelaat dat hulle wat hom soek, Sy nabyheid kon beleef. Kyk maar net na voorbeeld van Henog in Gen 5:22-24 en ons lees in Gen 6:9 hoe naby Noag aan God was. God het die mag gehad om ‘n einde aan die mens te bring – die slegtheid was net te veel – soveel dat tot God spyt gehad het. Tog besluit God om die mensdom nie uit te wis nie, maar betoon genade aan Noag en sy gesin. Genesis 8:1 wys vir ons weereens die karakter van die God van die heelal. Sy gedagtes is by die mens. Hy het gedink aan Noag en sy gesin daar in die ark. Die hoofstukke wat volg gee vir ons verder kleur aan ‘n God wat nie die mens los nie. Hy het nie maar net ‘n ekspriment begin en dit gelos nie. Hy bly deurgaans betrokke. Van die roep van Abram om ‘n nasie uit hom uit te maak tot die baba van ‘n slavin van Abram, Hagar, in die woestyn sit en huil. God hoor ons denke. God hoor ons gebede. Hy gee om. Hierdie almagtige Skepper van die heelal gaan selfs so ver om na Abram se pleidooi vir Sodom te luister en Jakob toe te laat om ‘n hele nag met Hom te worstel. Hierdie naby wees en belangstelling van God die Skepper word bevestig deur Jesus, God in mensvorm wat tyd gemaak het om na tollenaars se huise (vergelyk Lukas 5:27-31) te gaan en tyd te maak om die trane van ‘n treurende weduwee te omskep in hoop van opstanding. Wanneer jy vir jou kinders vertel van Noag en die vloed, Abram, Jakob en sy worsteling, en regdeur die Bybel tot waar julle gesinstye oorvloei van al die wonders wat Jesus gedoen het toe Hy op aarde was, maak seker dat jy die karakter van God uitwys as Iemand wat naby is, wat hoor en wat omgee. En dan, rond dit af met die besef dat Hy steeds naby is – dit is wat Handelinge 2 ons leer. Ja, Jesus se belofte van die Trooster en Raadgewer, die Heilige Gees (vergelyk Johannes 14:26) word waar daar waar Petrus, ‘n visserman wat heel waarskynlik nie goed kon lees eers nie, die profeet Joël aanhaal (vergelyk Handelinge 2:16-21). Hy is waarlik Immanuel, God met ons!