Wanneer ons die profete lees, raak dit selfs vir volwassenes ‘n uitdaging om die verstaan van God se karakter tasbaar te maak. Vir kinders is dit nog meer van ‘n uitdaging. Dit beteken egter nie dat ons ons kinders moet weerhou van hierdie gedeelte in die Bybel nie. Veral vir kinders van ouderdomme kleuter tot middel laerskool, werk die styl van vertelling baie goed. Begin met die vertelling van die verhaal van profete soos Jona, waar die avontuur van ‘n bootreis, vreesaanjaende storm op die see en drie dae binne ‘n walvis enige kind se aandag lank sal vashou. Die verhaal van Jona self voeg genoeg kleur om enige kleuter se verbeelding aan te wakker. Maar onthou om die kind se aandag deur die vertelling te stuur na die kern, naamlik dat God in beheer is, alwys en alwetend is om die harte te sien van ‘n hele stad Nineve en genadig te wees teenoor hulle. Verder, God werk met groot begrip, selfs ‘n tikkie humor met Jona waar ‘n wurm sy skaduwee van selfbejammering verinneweer en wys vir ons ‘n kosbare deel van Sy karakter. Die vertelling van die verhale van Jesaja, Jeremia en Esegiël kan uitdagend wees, maar weereens is die objek van die deel van hierdie verhale die belangrikste, naamlik dat God nie sy volk op hulle eie laat nie. Lees maar net Esegiël en dit raak duidelik dat God meer as genoeg rede gehad het om finaal sy rug op Israel te draai, maar Hy doen dit nie. Deur al die wreedaardige beelde wat die vertelling van hierdie profete ontbloot, is dit belangrik om raak te sien dat God getrou bly, selfs deur hartverskeurende straf wat ekstrapoleer na ballingskap in ‘n vreemde land, bly God by sy volk. Laasgenoemde boodskap en karakter van God word verder tasbaar gemaak deur die eggo van God se teenwoordigheid by sy volk selfs in die vreemde, ten spyte van hoe seer hulle Hom gemaak het. Die boek Daniël leen hom weer tot groot verbeelding prikkeling van ‘n God wat by Sy mense bly, selfs in ‘n vuuroond en ‘n leeukuil. Moet ook nie die belangrike aspek van God se karakter oorsien wat demonstreer hoe seer Hy kry wanneer Sy mense hulle rug op hom draai nie. Die profeet Hosea is ‘n goeie voorbeeld waar die naratief die liefde van God vir sy mense en die seer wat Hy ervaar wanneer sy mense keer op keer ontrou is vir ons tasbaar maak. Laastens is dit belangrik dat die vertelling van die profete ook demonstreer hoe God besig is met ‘n groot en alwyse plan. Die verhaal van Jesaja is maar een voorbeeld waar ons ‘n blik daarop kry en is ‘n kragtige brug na die Nuwe Testament waar die karakter van God die planmaker tasbaar word deur die beloofde Messias wat saam met Sy mense leef hoe Sy tyd op aarde later deur die Nuwe Testament eggo in die woorde van die apostels en uiteindelik die boek Openbaring.