Philip Yancey noem in ‘n lesing wat hy gee oor lyding en genade dat, as ons hartseer en ontsteld is oor die toestand van die wêreld, dan moet ons weet dat God se hartseer ontelbaar meer is. Dit is belangrik om vir ons kinders ook die kant van God te wys wat treur en ly. Daar is ‘n paar handige plekke in die Bybel om ons te help met storie vertelling oor hierdie kant van God om sodoende Hom meer begrypbaar vir ons kinders te maak. Mens kan net kyk na die verhaal van Hosea. Dit is verhaal wat vir ons vertel hoe wyd en diep die liefde van God vir sy volk strek. Soveel so dat Hy herhaaldelik die volk vat wat Hom oor en oor verwerp. Vir jonger kinders is die vertel van Jesus se tyd op aarde, soos weergegee in die vier evangelies, egter ‘n meer toepaslike hulpmiddel. Ons lees in die evangelies dat Jesus ook moes worstel met en ly onder die alledaagse dinge van die lewe soos hongerte, moegheid, frustrasie met mense wat moedswillig en agterbaks is en selfs die verwerping deur familie lede. Dit is belangrik om hierdie kant van God vir ons kinders te wys. Reeds van ‘n baie jong ouderdom weet ons kinders wat dit is om moeg, kwaad, gefrustreerd, hartseer en bang te wees. Deur hulle te laat sien dat die God van die heelal ook dit ervaar het om aarde skep ‘n punt waarop hulle kan vereenselwig met Hom. Dit skep ook die platform om kinders te help met hulle gebedslewe, naamlik om van ‘n wenslysie styl te groei na die bespreking van emosies met God – want Hy weet hoe dit voel. Daar is veral drie gedeeltes wat ek gewoonlik prioritiseer om hierdie kant van God aan kinders bekend te stel. Die eerste is die vertelling van Jesus se trane oor Lasarus. Die teks lei mens om maklik die verhaal te vertel. Die sleutel is egter om stil te staan by Jesus se trane. Hoekom huil hy? Hy weet dan Hy gaan vir Lasarus uit die dood opwek? Die antwoord: Hy simpatiseer innig met die mense rondom Hom wat nie sien wat Hy sien nie. Maar meer nog: dit is vir Hom swaar om Lasarus terug te bring van die hemel af na hierdie stukkende wêreld. En so word Jesus se trane ‘n venster waardeur ons begin sien waarheen Jesus se tyd op aarde wys – die ewige lewe saam met God, sonder lyding. Verder is Jesus se worsteling in Getsemane baie belangrik. Buiten die wys na Jesus se ware angs, is dit ook belangrik om te wys op sy gesprek met God in sy tyd van nood: “Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld.” Die derde vertelling is dan natuurlik die lyding wat Jesus daardie donker Vrydag moes deurgaan. Ja, dit is ontstellend, en daar sal trane wees wat oor kleuter wangetjies rol, maar prys die Here dat daar ‘n Sondag was waar die sonlig helder in die oop graf ingeskyn het en die donker Vrydag ‘n Goeie Vrydag gemaak het. God het nie net plan gemaak met hierdie stukkende wêreld nie, Hy het sommer self ingespring en so verstaan Hy presies elke gebed en elke traan. Eer aan hierdie wonderlike God wat deur Vrydag gely het en Opstanding Sondag laat kom!