Die God wat verras met wie Hy kies

Mens kan na Handelinge bloot as ‘n geskiedkundige weergawe van die ontstaan en verspreiding van die kerk kyk, of jy kan daarna kyk as ‘n ten toon stelling van die karakter van die Almagtige God wat komplekse, sonde belaaide karakters propvol persoonlike flaters gebruik om Sy meesterlike plan deur te voer. Wanneer jy laasgenoemde benadering verkies, gaan Handelinge vir jou oop op ‘n manier waardeur jy met groot effektiwiteit die luisteraar kan blootstel aan God. Handelinge is baie geskik om met groot opwinding en kreatiwiteit van storie vertelling gebruik te maak. Ek dink byvoorbeeld aan die vertelling van die Heilige Gees se uitstorting op die dissipels waar hulle bewend van angs wegkruip in ‘n klein kamertjie. Oorweldig deur die opvaart van Jesus na die hemel en die daaropvolgende vrae waarmee hulle sit oor wat die volgende stappe moet wees, betree die Heilige Gees die toneel en maak van ‘n beswaard geletterde Petrus ‘n orator van formaat wat duisende mense aanspreek en met gravitas uit die boek Joël aanhaal. Die resultaat van Petrus, die visserman, se preek is drie duisend mense wat tot bekering kom. Só word die karakter van God tasbaar gemaak deurdat ons sien dat God na ander kriteria kyk as selfvertroue, kwalifikasies, ervaring ensovoorts. God kies mense vanuit Wie God is, nie wie en wat mense is nie. God het nie mense nodig om sy plan deur te voer nie, tog kies Hy om mense deel te maak van Sy plan. Dit laat my dink aan die voorbeeld van die pa wat sy kleuter seun inspan om saam met hom tuin te maak. As pa weet hy dat hy die werk in helfte die tyd kan klaarmaak, maar hy kies om dit saam met sy seun te doen, want hy het hom lief en wil saam met hom dit doen. Die ander treffende vertelling vanuit Handelinge is die gebeure rakende Paulus – van verblindende lig, ontsnap in mandjies vanuit die stadsmuur, skeepswrak, slangbyt tot meesterlike preke – onderstreep die vertelling van Paulus die karakter van God wat wil hê dat almal gered moet word – van die Jood tot die nie-Jood en ja, tot diegene wat die verskriklikste dinge in hulle lewens aangevang het, soos Paulus wat vasberade die volgelinge van Jesus vervolg het. Vir almal is daar plek in die taakmag van God se plan, van ‘n lae geskoolde visserman (Petrus), ‘n bekwame besigheidsvrou (Lidia), ‘n tronkbewaarder in diens van die Romeinse weermag (Hand 16) tot ‘n vervolger van Christene (Paulus). Daar is ook plek vir jou.

Verwante Artikels en Video's