Een van die mees opwindenste goed vir my om te beleef is om na kinders se gesigte te kyk wanneer ek hulle vertel van die wonders wat God gedoen het. Net soos wat die Israeliete vir hulle kinders oor die geslagte heen met groot entoesiasme vertel het van die God wat Moses gestuur het en groot wonders gedoen het, moet ons ook vir ons kinders laat kennis maak met die God wat dinge doen wat enige super held film reeks laat verdwerg. As ouers het ons ‘n groot verantwoordelikheid om vir ons kinders van God te vertel. Ons maak ‘n belofte voor die lewende God. Ja, dieselfde God wat die tien plae bestuur het, wat die Israeliete oor kurk droë grond deur die Rietsee laat trek het en boonop nog die Egiptiese leër in water van bedenklike diepte laat verdrink het, is die God aan wie jy as ouer die belofte afgelê het om jou kinders van Hom te leer. Meer nog, jy moet van hulle dissipels maak. Dit kan voorwaar intimiderend wees. Maar God help ons deur vir ons die Bybel te gee wat ryk is aan gebeurtenisse wat ons kan vertel wat enige kind aan jou lippe sal laat hang. Doen jouself ‘n guns en maak ‘n lys van al die wonders van God Drie Enig wat in die Bybel opgeskryf is. Daardie lys kan jou vir ‘n lang tyd besig hou. Van die tien plae tot die trek deur die Rietsee. Van manna uit die hemel en water uit ‘n rots. Van donkies wat praat om dwalende dienaars op hulle plek te sit tot vuur uit die hemel wat ‘n water deurdrenkte offer en altaar verslind terwyl die Baäl profete maar net kan staan en toekyk hoe die ware lewende God dit duidelik maak dat tot die hout waarvan hulle hul afgode maak deur God geskep is. God se wonders is nie altyd groots en oordadig nie. Dit gebeur ook in die stilte teenoor ‘n individu soos wanneer die kraaie vir Elia kos bring of wanneer ‘n weduwee beleef hoe God voorsien deur ‘n kruik wat nooit leeg raak nie. Die belangrike wat ons in gedagte moet hou is dat, wanneer ons kinders aan ons lippe hang van die wonderbaarlike goed wat God gedoen het, ons altyd in ons vertelling vir hulle laat sien dat die wonders van God ons altyd moet laat verby, (of eerder deur), die wonders kyk na waarheen dit wys – naamlik ‘n God wat sorg, ‘n God wat ‘n plan het met die redding van die mens en wanneer Jesus op die toneel verskyn neem die wonders al meer ‘n karakter aan van bakens wat heenwys na die Koninkryk wat kom. Om vir kinders te vertel van die God wat wonders doen is groot pret. En die grootste doel waarheen ‘n program van wonders vertel moet werk is om by ‘n deel soos Matteus 9:1-8 uit te kom, sodat die grootste wonder, naamlik die vergifnis van sonde se eggo al duideliker word wanneer die vertelling van die Golgota gebeure en Paulus se diep refleksie daarop, soos in 2 Korintiërs 5 geskryf, na vore kom.