Die Onse Vader as model gebed vir kinders

Die bekende Christen skrywer, Philip Yancey, het ‘n treffende boek geskryf oor gebed. Van die staanspoor af, wanneer jy die boek optel, spreek die titel reeds tot jou. “Prayer, does it make any difference?” is ‘n titel wat jou gemoed reeds wanneer jy die eerste bladsy begin lees stem. Na 319 bladsye se intense en eerlike denke oor gebed kom die kern boustene van gebed kragitg tot die punt – die Onse Vader as model gebed wat Jesus vir ons gegee het in Matteus 6 en Lukas 11 was met ‘n doel. Jesus, ons Leermeester, Redder en Verlosser het dit vir ons gegee sodat gebed wel ‘n verskil maak.

Daar is geen beter raamwerk om kinders te leer bid as die model gebed wat Jesus vir ons gegee het nie. Diepe bestudering van hierdie gebed laat ons ervaar hoe gebed verander van die eensydige bespreking (of selfs vereiste) van ons kant af na ‘n wonderlike proses waardeur ons besef hoe klein ons eintlik is, en hoe groot, almagtig en onbeskryflik in beheer God is. En dan is dit nie net in beheer op ‘n kosmiese en globale vlak nie, maar in beheer en hard aan die werk met tot die kleinste detail van elkeen van ons lewens. Dit is dan dat gebed transformeer van ‘n lys van versoeke na ‘n diepe gesprek met Hom wat dinge op só ‘n manier in ons lewens doen dat ons nie anders kan as om God se doen en late te beskryf soos wat Paulus dit doen in Efesiërs 3 verse 18 tot 19.

Is dit moontlik om vir ‘n kind só te leer bid? Ek dink definitief. Kyk maar net hoe begin die Onse Vader. Dit begin met ‘n erkenning van ons Hemelse Vader wat nie net na ons lewens vanuit die ewigheids perspetief kyk nie, maar wat alles in ons lewens bewerk – daaglikse brood, vergifnis van sondes en beskerming van die bose – met Sy komende koninkryk en Sy wil soos in die hemel in gedagte. Dit laat jou verbeelding los in ‘n veld van verwondering. En kinders se verbeelding is veel meer kragtig as groot mense sin. Miskien moet ons groot mense bietjie by kinders leer hoe mens die voorbeeld gebed van Jesus leer….

Verwante Artikels & Video's