Wanneer ons deur die Evangelies begin werk met ons kinders maak die teenwoordigheid van Jesus as Seun van die Almagtige God die konsep van God vir kinders meer tasbaar. Daar is vir my iets baie kragtig en simbolies daarin, selfs vir volwassenes. Laasgenoemde sukkel nie soseer met die konsep van Jesus as Seun van God, God self nie. Tog help die vertellings van Jesus se tyd op aarde, tussen ons mense, om met meer perspektief te kry vir wat ons deurgaan – Hy weet hoe dit voel. Die Evangelies gee vir ons ‘n rykdom van stof vir vertelling wat enige kind se aandag en verbeelding sal prikkel. En dit alles wentel om Jesus en wat Hy vir ons kom wys het deur saam met mense te leef, eet, treur, lag en stap. Die klem is op die werkwoord “wys”. Lukas 4:43 beklemtoon die belangrikheid van hierdie werkwoord. Jesus se prediking, optrede en lewe op aarde is onder andere ‘n heenwysing na die Koninkryk van God. Die plek waarheen almal, wat Jesus as Seun van God en hulle Redder aanvaar, uitgenooi is. Elke wonderwerk wat Jesus gedoen het is vir ons ‘n tasbare demonstrasie van die karakter van God. Maar dit is ook ‘n teken wat vir ons heenwys na die plek waarheen Jesus nooi waar daar nie meer siekte, trane of dood sal wees nie. En baie belangrik, elke vertelling van wat Jesus gedoen het op aarde moet op so ‘n manier gedoen word dat dit ons kinders help om dit as ‘n skuiwergat te beskou waardeur hulle kan (en moet) kyk na die feesfiering saam met Jesus soos in Openbaring 19 beskryf en die nuwe hemel en aarde soos beskryf vanaf Openbaring 21. Hoe lyk die skuiwergat? Ons vind daardie skuiwergat in die vorm van ‘n kruis op Golgota en ‘n leë graf. Elke vertelling van die ryke naratiewe stof wat ons in die Evangelies kry moet ons kinders help om deur hierdie kruis en leë graf skuiwergat te kyk na die ewigheid waarheen Jesus ons vat. Só kom die Kersfees vertelling tot sy volle betekenis: Ja, dit gaan oor die wonder van die baba Jesus wat uit die maagd Maria gebore word en nederig in ‘n voerbak in ‘n stal neergesit word. En dit gaan oor die opwinding van herders in die ope velde wat deur die hemelse lofprysing bekoor word. Maar die kern van hierdie vertelling is die heenwysing na die Seun van God, (God self), wat uit Sy posisie van almag heerlikheid in die hemel uitgeklim het en saam met die mens die paaie van hierdie stukkende wêreld kom loop het, soos wat Paulus so mooi in Filippense 2:5-11 beskryf.