Die storie van Abraham

Vanaf Genesis 12 raak die pad wat jy saam met jou huisgesin deur die Bybel stap ’n trap meer interessant wanneer daar in meer diepte op sekere karakters ingegaan word. Die pad wat God met Abram stap totdat hy Abraham word en selfs verder wanneer Isak uiteindelik gebore word gee baie stof om kinders se verbeelding te prikkel. Ons het byvoorbeeld in ’n les waar ek en my vrou vir ongeveer vyftig kinders van ouderdomme 6 tot 13 wou leer van Abraham, Isak en Jakob met ons twee dogters saamgespan en soos die drie aangetrek. Met ’n vernuf wat herinneringe blywend maak het my vrou ’n dialoog geskryf en soos ware figure uit die tyd van Genesis het ek en my twee dogters die drie karakters voorgestel. Ek natuurlik Abraham, ons oudste dogter Isak en ons jongste dogter Jakob. Die gesprek het al die woelwaters se aandag stip op ons gehou. Veral toe hulle nog die kans kry om vir ons vrae te vra! Ouers, raak kreatief, selfs al voel dit vir jou bietjie verspot. Trek jou soos ’n wafferse besoeker uit die tyd van Genesis aan. Selfs die vroeë tieners wat aanvanklik oë rol en deur die hele sessie nie sal wys dat hulle geïntereseerd is nie, sal in latere jare terug dink aan hierdie sessie! Maar die pret moet ’n doel hê. Dit moet alles beplan word om die essensie van God se karakter te leer wanneer die verskillende karakters bestudeer word. Wat moet ons byvoorbeeld leer van Abram? Dit is God wat hom kom kies het. En dit is God wat met hom ’n pad gestap het. Ten spyte van al Abram se foute, soos om Lot saam te vat toe God Abram beveel om op te pak en te gaan toe Abram se geduld aan sy vrou se raad ingee en hy die plan van God in eie hande probeer neem deur by die slavin Hagar ’n kind te verwek, het God steeds by Abram gebly en selfs so ver gegaan om die verbondsverhoudingsketting voort te sit wat lei tot die verandering na Abraham. Moenie vergeet om deur jou vertelling van Abraham se verhaal heen te wys na Hebreërs 11 nie. Vanuit hierdie hoofstuk sien ons hoekom daar baie keer na Abraham verwys word as die vader van geloof. En tog was die pad wat Abram gestap het tot by die Abraham wat God gehoorsaam het deur die onmoontlike toets van Genesis 22. En so sien ons God se karakter. Hy vat vir Abram, stap met hom ’n pad tot Abraham en los hom nooit nie. En deur God se werking in Abram tot Abraham ontwikkel ’n geloof wat as voorbeeld vir alle volgelinge van Christus dien. Dit bring dan die Hebreër preek se museum van gelowiges in hoofstuk 11 tot die sleutel konklusie in die laaste twee verse: Abraham en al die gelowiges het ’n ewigheidsperspektief ontwikkel deur die genade van God. Ek hou van hoe pastoor Stephen Armstrong van Verse by Verse Ministries International dit noem: “They had eyes for eternity”. Maar watse geloof is dit die? Die sleutel lê in Genesis hoofstukke 20 tot 22 waar daar ’n kontras gestel word tussen reddende geloof en ’n Matteus 8:29 geloof. Ons sien ‘n duidelike kontras tussen Abimelek se interaksie en soeke na God (altans die afwesigheid daarvan) versus die van Abraham sin. Beide beleef God se ingrype op ‘n treffende manier, maar net een van die twee soek toenadering tot God. Abraham maak foute ja, maar hy vorder progressief na ‘n plek waar hy nie sy sekuriteit vind in die verdrag wat hy met Abimelek sluit nie, maar in sy toenadering tot God, vgl Gen 21:33. Geloof bring my op ‘n plek waar ek my met God verbind. Dit maak dat my oë op God gevestig bly en dat ek begin raaksien wat God vir my gedoen het. Dat ek in die allerheiligste mag ingaan en direk met God mag praat. En dat ek vir God kan vra om my te help om na myself en my omstandighede te kyk vanuit Sy perspektief. En vanuit God se perspektief sal ons besef dat ons maar net tydelik in hierdie wêreld is en oppad is na die nuwe wêreld wat Hy vir ons voorberei het.   

Verwante Artikels & Video's