Een van die hoogtepunte wanneer mens deur Genesis werk as deel van die huis godsdiens is die weergee van die gebeure by die Toring van Babel. Genesis 11 gee genoeg vir jou as ouer om op ‘n baie kreatiewe manier die dieperliggende boodskap vir jonk en selfs oud in die gesin te leer. Babel se gebeure wys na die gevolge wanneer die mens God nie ken in jou planne nie. Dit bly maar die probleem van die mensdom van die begin van die sondeval. Om ‘n blywende indruk op jou gesin te laat rakende hierdie gedeelte in die Bybel, vat sommer klomp leë kartonbokse in die huis. Laat elkeen met twee of drie van die bokse bymekaar kom buite in die tuin. Maak dan asof julle ‘n toring bou – dit is nogal pret om dit so hoog moontlik te bou! Werk dan met jou gesin deur die belangrike punte in Genesis 11. Byvoorbeeld, die begin punt van die gedeelte waar dit duidelik wys dat die mense se planne glad nie God ken nie en meer nog, eintlik maar net ‘n tentoonstelling is van die mens se ego. Maar dit wat volg uit die ontkenning van God en die meegaande ego is die blatante ongehoorsaamheid aan die opdrag van God in Genesis 1:28. Dan volg die nogal komiese deel waar God afkom na die vreeslike toring om te sien wat die mens doen. God het natuurlik geweet wat die mense se planne is. So ons moet verse 6 en 7 in hoofstuk 11 lees in die konteks van die skrywer wat met ‘n druppel sarkasme die ironie wil aandui van die mense se arrogansie en brawade teenoor die Skepper van die heelal. En dan demonstreer God Sy almag deur die verwarring van verskillende tale onder die mense los te laat. Die sleutel gedagtes om op te fokus is natuurlik die almag van God, veral om op te let dat die Woord van God nie leeg aan die einde van die geskiedenis sal opdaag nie. As God opdrag gespreek het dat die mense die aarde moet vul, sal geen mense intellek of vakmanskap dit verhoed nie. God spreek, en dit sal gebeur. Meer nog, dit het gebeur en dit gee vir ons baie goeie perspektief op hoe ons Openbaring en van Jesus, Paulus en Petrus se uitlatings oor die eind tye te lees. Laastens maak Genesis 11 dat elkeen van ons jou ego moet konfronteer. Ek hou van hoe Stephen Armstrong van Verse by Verse Ministries International dit stel: “We don’t need more self-esteem. We need more Christ-esteem.” En op daardie noot kan ons teruggaan na daardie karton toring wat in die tuin staan. Dit is dan simbolies van hoe ons ons vertroue in ons eie vermoeëns afbreek om aan die einde ons eie Babel te verlaat ons alles wat en wie ons is bou op die Woord van God.