Gaan die Webb teleskoop die Bybel onklaar maak?

Ek is so ‘n jaar terug deel van ‘n gesprek waar iemand die opmerking maak dat dit net ‘n kwessie van tyd is dan ontdek ons lewe op ander planete deur middle van die James Webb teleskoop, en dan kan die Bybel en die Christen geloof maar weggooi word. Die James Webb teleskoop geniet baie aandag tans, maar die argument is nie nuut nie. In wese kom dit neer op die argument deur die eeue dat wetenskaplike vooruitgang gaan maak dat ons die Bybel moet “hersien“. Sonder twyfel gaan jou kind een of ander tyd met hierdie argument, in watter vorm ookal gekonfronteer word. So kom ons kyk hoe ons die James Webb argument aanpak. Dit begin met ‘n stel vrae wat op die logiese “ja of korrek“ reaksie uitloop. 

Sover ek weet het alle ondersoeke na die buitenste ruim tot dusver daarop gewys dat alle sterre uitbrand, reg?

So, as alle sterre uitbrand, dan beteken dit dat die planete verbonde aan daardie sonnestelsel ook sal vergaan, reg?

So dit beteken dat die dood oral in die heelal voorkom.

Maar wag, voordat jy protes aanteken teen hierdie argumentslyn deur te verweer dat dood die natuurlike uiteinde van alles is, vra jouself dan af: hoekom gee jy plante water? Hoekom wild bewaring doen? Is dit nie maar die normale gang van sake dat alles “moet vergaan“ nie.

Kom ons gaan kyk na die volgende tekste in die Bybel wat vir my die gemoedsrus gee dat die Bybel nog lank gaan bestaan nadat hierdie wêreld vergaan het, en ek wil my verstout om te sê, voordat die James Webb Space Teleskoop lewe op ‘n ander planeet vind. Ja, daar gaan gespekuleer word, maar dit is waar dit gaan bly.

In Genesis 1:1 lees ons: In die begin het God die ganse heelal geskep, die hemel daarbo en die aarde hieronder. En hier is die merkwaardige van hierdie vers: die heelal is massief, maar God se Woord fokus op hierdie klein blou bal in die melkweg. God is so magtig dat Hy alles gemaak het, maar sy prioriteit is die aarde en wat hier op aarde gebeur. Ek meen, dit is treffend – ons lees dat God die son gemaak het, en dan brei dit daarop uit dat die son in die dag ligmaak en die maan in die nag – en dan in letterlik 6 woorde “Hy het ook die sterre gemaak” en laasgenoemde tel in hulle triljoene. Maar die fokus is op die aarde – die kern van God se fokus in sy hele skepping. Kolossense 1:15 – 17 vertel vir ons dat God alles in die hemel gemaak het, ook dit wat onsigbaar is. Interessant. Daar is onsigbare dinge – en God het dit ook gemaak. So in die Bybel lees ons al van die kennis dat daar ook onsigbare materie is – iets wat ons eers baie later nadat Paulus dit geskryf het deur astronomie en fisika geleer het. En baie belangrik, alles, (alles in die heelal) word deur Jesus in stand gehou. Drie baie belangrike goed wat ons moet oplet in hierdie gedeelte wat Paulus skryf: 1. Jesus het die skeppingswerk gedoen, en 2. vers 16 vertel vir ons dat daar ook engele is wat ons baie min van weet en hulle is deur Hom gemaak, en 3. Jesus hou alles in stand. 

In 2 Petrus 3 vertel Petrus van die skepping van alles en dit is lyn met dit wat ons in Genesis en Kolossense lees. Jesus het alles gemaak. Weet jy wat is interessant in Petrus se woorde? Hy verwys na die beginsel waarop lewe moontlik is op ‘n planeet. Dit bestaan uit 21 baie fyn berekende en gesofistikeerde veranderlikes wat alles in fyn balans moet wees om lewe te kan volhou. Petrus bevestig ook dat die aarde ‘n globale vloed beleef het en dat die heelal en die aarde sal vergaan in die vuur oordeel van God. En hier is ‘n belangrike punt, Petrus noem in hierdie hoofstuk dat God die aarde en die heelal, alle sterre en planete, gereed hou om in vuur te vergaan as gevolg van die mens, (nie ander wesens nie, nie ander mense op ander planete nie) se sonde. Hier kom ons weer by die fokus van God uit – God fokus sy hele reddingsplan deur Jesus aan die kruis op hierdie een planeet, aarde. As daar lewe op ander planete was, dan skeep God hulle kwaai af. Petrus noem dat, hoewel alles gaan vergaan, die mens wat in Jesus glo gered gaan word en vir ewig saam met God wees. En dan laastens, hoekom sê ons dat daar nie ander mense en ander wesens op ander planete is nie? Ons lees in Openbaring 4 en 5 dat dit net God drie Enig, die engele wat nie saam met Satan teen God gerebeleer het nie, en die mense wat gered is wat in die hemel sal wees. Om weer terug te kom by die begin punt van die argument: die hele skepping is onderwerp aan uitbranding en dood. Waar kom die dood vandaan? Wel, van sonde af. En wat is sonde in sy kern? Die ontkenning van God en Sy soewereiniteit. En as jy daardie redenasie lyn probeer sidestep, dan gaan jy jouself vas redeneer, want dan moet jy alles wat goed is ook verwerp, soos om vir diere te sorg. So dit bring ons terug by die spoor van waar kom dood vandaan. En dit vat ons na erkenning van sonde toe, en die God wat alles gemaak het, maar die aarde en die mens as die kern van sy skeppingswerk in sy hand hou, totdat die dag kom wat Hy alles gaan vervang met die nuwe hemel en nuwe aarde – gaan jy deel wees daarvan?

Verwante Artikels & Video's