Vir enige ouer wat wonder hoe om jou kinders se aandag te hou tydens Bybelstudie is die gelykenisse wat Jesus vertel vanaf Matteus tot Johannes ‘n wonderlike hulpmiddel. Met verwysing na die gedeelte in die vorige uitgawe, die rol wat die ouer moet speel om die kind te laat kennis maak met die God van Abraham, Isak en Jakob – (en Hy word so beskryf met die volle teologiese intensie wat hierdie term inhou) – is om deur die bekendstelling van Jesus vroeg in die kinderjare al te bevestig Wie Jesus is, hoekom Hy op aarde was en wat dit vir elke mens beteken. Daar is soveel vertelling reg deur die Evangelies wat die ouer kan help met hierdie taak. En die vertelling kan in die volgende kategorieë opgedeel word, naamlik dit wat Jesus gedoen het, dit wat Jesus gesê het en dit wat met Jesus gebeur het. In die kategorie van dit wat Jesus gesê het vind ons die skatkis van gelykenisse. Jesus se “stories” wat Hy vertel het gee vir die ouer ‘n rykdom van geleenthede om vir hul kinders bloot te stel in ‘n baie handige storie vertellende styl aan hierdie belangrike taak van elke ouer. Ongeag jou seining oor die doop, of dit nou klein of groot is, as ouer het jy ‘n verantwoordelikheid om jou kind aan die Here voor te stel. En hierdie taak hoef nie intimiderend te wees nie. Deur net ‘n gesprek te begin met: “Het ek al híérdie storie wat Jesus vertel het met julle gedeel?” het dadelik die aandag van jou jongeling. Ons almal hou van stories. Die gelykenisse wat Jesus vertel bied nie net vir ons as ouers ‘n Goddelike geïnspireerde verhaal op ‘n skinkbord nie, dit skep ook die geleentheid om ons kinders te laat kennis maak met God. Die vertelling van enige verhaal is soveel meer treffend wanneer dit in prente gedoen word. Om die waarheid te sê; die oordrag van enige konsep word deur die medium van prente soveel makliker gemaak. Dít is wat die gelykenisse van Jesus juis moontlik maak. Toets bietjie as ouer om selfs so ver te gaan om ‘n gelykenis wat Jesus vertel te dramatiseer. Dit gee selfs vir man en vrou ‘n interessante huweliksbou oefening. Maar moenie so gefokus wees op hoe koddig julle as ouers voor die kinders kan lyk nie. Let eerder op hoe hulle oë verklap hoe hulle julle spontaniteit waardeer en hoe hulle menige aand ete oor die volgende paar maande nog gaan praat en saam lag oor julle opvoering. Die belangrike is dit: julle het die saad geplant, en die res is oor aan die Heilige Gees…