God se plan met die wêreld – die Bybel as padkaart

Ons het onlangs saam met kinders op reis gegaan om tasbaar God se plan met hierdie wêreld te demonstreer. Dit het begin met ‘n oefening waar hulle in spanverband ‘n foto op hulle foon ontvang het en dan moes uitpluis waar hierdie landmerk is. By die landmerk uitgekom, het hulle ‘n vers uit die Bybel ontvang. Dit is dan opgevolg deur ‘n volgende landmerk foto met nog ‘n Bybel vers. So het dit aangehou totdat hulle deur verskeie tekste in die Bybel gewerk het, vanaf Genesis tot Openbaring – die laaste teks gedeelte waar hulle dan verras is met ‘n pakkie lekkernye. Die analogie wat gebruik is, is een van ‘n reis saam met jou ouers. Byvoorbeeld ‘n reis see toe. As kind het jy nie regtig kennis oor hoe jou ouers daar gaan uitkom nie. Jy weet ook nie hoekom julle op sekere plekke stop en na sekere monumente of landskappe kyk nie. En in plaas daarvan om vir jou ouers te vra hoekom daar op ‘n sekere plek gestop word, om byvoorbeeld na die Drakensberge te kyk en die pieke te leer, raak jy al meer gefrustreerd, want die see wag! Maar moenie die opwinding, skoonheid en groei langs die pad mis nie. Moet ook nie die gesprek met jou gesin mis nie. Dit alles dra by tot die volheid van die seevakansie. God se plan werk só. En Hy gee vir ons ‘n padkaart, vanaf die belofte in Genesis, deur die emosionele heuwels van die Psalms, en die bevestiging van die belofte in die profete, tot die materialisering van die belofte met Jesus se geboorte en uiteindelik die klimaks in die ewigheid saam met Hom soos in Openbaring 21 en 22 beskryf. Daarom maak Paulus met Efesiërs 1:9-10 in gedagte die oproep om die lewe met geesdrif te leef, want deur die Bybel kan ons sien wat God se plan is!

Verwante Artikels en Video's