Groepsdruk – leer van Dawid

Groepsdruk intimideer elke kind. Dikwels uiter kinders: “maar almal in die skool dink so”, of “almal maak so!”, of “wat gaan hulle van my dink, hulle ‘judge’ mens baie gou”, of “julle verstaan nie hoe dit is nie!” Laasgenoemde gee ‘n goeie plek om by aan te sluit. As ouer, gee eerder toe dat jy nie die volle prent het of werklik kan verstaan nie. Dit gee jou die geleentheid om ‘n kragtige voorbeeld van groepsdruk uit Dawid se geskiedenis te gebruik. Dit begin sommer vroeg in 1 Sam 17. Die hele leër van Israel skram weg van Goliat. Maar Dawid swem stroom-op. Dan is daar die twee voorbeelde waar Dawid deur sy eie manne onder druk geplaas word om die geleentheid aan te gryp en Saul dood te maak (vergelyk 1 Sam 24 en 26). Beide kere laat Dawid se manskappe hom dink dat dit God “se wil” is. Dink net ‘n bietjie aan die druk wat Dawid ervaar het. Saam met sy manskappe is Dawid in vrees vir hul lewe; blootgestel in die wildernis aan Saul en sy soldate wat daarop uit is om hulle dood te maak. Hierdie gedagte moes veral vreesaanjaend gewees het nadat hulle gehoor het wat Doëg, Saul se dienaar, aan die priesters van Nob gedoen het (1 Sam 22). Wat moes Dawid se manskappe nie alles gedink het toe Dawid teen hulle advies in Saul se lewe spaar nie!? Ek is seker die druk wat Dawid ervaar het is ‘n goeie vergelyking vir die “druk” wat tieners ervaar, soms ook met “goeie” bedoelings en redes voorgegee. Maar wat is die verskil? In elke groepsdruk situasie het ons almal ‘n keuse – gaan jy jou steur aan wat mense dink of wat God dink? Dawid het elke keer hom gerig tot God se opinie. Daarom was hy ‘n man na God se hart. 

Kern gedagtes en teks verse:

Gedagte
Vers
Groepsdruk kan partykeer maak dat niemand iets doen nie. En die ongewilde aksie is dan om juis op te tree en aksie te neem. Dawid het dit gedoen, met die fokus om God te verheerlik.
1 Sam 17:32-51
Soms kan vriende met baie vroom gedagtes druk op jou plaas om iets te doen wat die hele groep wil doen. Die vraag bly staan; “Is dit wat God wil?”
1 Sam 24:5 en 1 Sam 26:8
Groepsdruk plaas ons in ‘n situasie waar ons moet besluit tussen wat mense van ons dink en wat die regte ding is om te doen. Dawid se eerste reaksie was altyd wat God dink.
1 Sam 26:9-11
Vir Dawid is God se opinie al wat tel, niemand anders nie.
Psalm 37 en 62

Verwante Artikels & Video's