Die gebeure van Genesis 3 en die tragiese gevolge daarvan is ‘n tema wat in sekere kringe van die kerk van Christus nie die nodige aandag kry nie. Ons verstaan van God (teologie) kan vinnig skipbreuk ly wanneer ons nie die realiteit van die sondeval konfronteer nie. En dit lei tot ‘n proses waar ons onsself moet konfronteer. Eenvoudig gestel, ons moet deur Genesis 3 gaan om die volle betekenis van Jesus se koms na die aarde, tyd op aarde, kruis en opstanding te besef. Gaan lees gerus ook Romeine 7. Paulus, en ons saam met hom, moet deur die innerlike worsteling van hoofstuk 7 gaan om by Romeine 8:18 uit te kom: “Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmeer God ons gaan verras nie.“ So ook Romeine 8:31. So, hoe deel ek hierdie konsep met my kinders? Een van die metodes is om vir hulle ‘n plantjie te gee – (maak seker dat dit ‘n plant is wat baie sonlig en water nodig het). Vertel vir hulle dat dit simboliseer die vertroue wat God in die mens geplaas het. Daarmee saam, het die mens toegang tot alles op aarde gehad, behalwe die een boom. God het die mens met alles vertrou, het jy al gedink hoe baie dit is. Net die een boom moes ons van wegbly. Goed, wys dan vir jou kinders dat jy hulle vertrou met hierdie plantjie oorals in die huis en die erf. Maar kies ‘n plek in die huis wat donker is. Gaan wys dan vir hulle wat gebeur as mens daardie plantjie in daardie stik donker plek sonder water vir ‘n hele paar dae, selfs weke los. Dit simboliseer die sonde in die vorme van nie na God luister en om weg van God (die Lig) te wees. Die uiteinde is die dood. Maar deel dan met hulle die plan wat God reeds gehad het om Jesus te stuur om aan die kruis te sterf om reg te maak wat die mens verkeerd gedoen het. Neem ‘n saadjie en plant dit in ‘n nuwe pot met goeie grond (gehoorsaamheid), been meel (invloed van die Heilige Gees), genoeg water (Bybel lees en bid) en goeie son (Christus se teenwoordigheid in ons lewens) en verduidelik hoe Jesus kom sterf het om vir ons uit die strik van die sonde en dood te kry. Een ding moet ons besef: ware bekering en daaropvolgende redding kan net geskied deur sonde belydenis en desperate uitroep na Jesus as ons Verlosser. Kyk gerus uit vir ons materiaal oor hoe om so ’n les met jou gesin te deel tydens julle gesins Bybelstudie.