Om te getuig is vir baie Christene ‘n intimiderende gedagte. Die oorsprong van hierdie gedagte kan uit baie hoeke kom. Christene kan wegskram van getuienis omdat hulle nie weet hoe hulle dit moet doen nie. Moet hulle groot woorde gebruik? Moet hulle sekere dele uit die Bybel aanhaal? Miskien moet ons weer herinner word daaraan dat dit die Heilige Gees is wat deur ons werk. Getuienis met impak is nie aan enige mens te danke nie. Dit is alleen deur die krag van die Heilige Gees dat ‘n getuienis ‘n impak het. Dit behoort mens al klaar rustig te maak. Soos met Petrus in Handelinge 2, toe hy daardie treffende preek gelewer het, sal die Heilige Gees vir ons op die regte tyd die regte woorde en ook Bybel verwysings gee wanneer ons getuig. Die belangrike is egter dat ons prioriteit moet maak met die bestudering van God se Woord, die Bybel. Hoe gereeld voed jy jouself met die Bybel? Is tyd in God se teenwoordigheid met die Bybel oop voor jou vir jou belangriker as enige iets anders? Wat is die resultaat van so ‘n prioritisering? Wel, kyk na Jesus se eposide in die woestyn waar die Satan hom vir veertig dae geteister het. Jesus se voeding en sy skild was die Woord van God. En dit het gemaak dat die Satan van hom vlug….
Kan kinders ook leer om te getuig? By Geloofstroom is ons oortuig hulle kan. Hoekom? Want daar is mooi voorbeelde in die Bybel van kinders wat getuig. Dink maar net hoe ‘n jong diensmeisie se getuienis die grote en belangrike Naäman se lewe verander het. By Geloofstroom gee ons met elke byeenkoms kans vir getuienis. Ons maak dit lekker en plesierig vir die kinders. Ons noem dit “Getuienis in Gallilea”. Dit is wonderlik om te sien hoe kinders van kleins gemaklik raak om te getuig deur die inisiatief van ‘n “Getuienis in Galilea”. Daar is nie ‘n verwagting vir groot woorde nie. Net ‘n uitnodiging om te vertel wat die Here in hulle lewens gedoen het, of wat hulle die Here sien doen het in iemand anders se lewe sedert ons laaste byeenkoms. En baie belangrik: gee elke kind ‘n kompliment in reaksie op hulle getuienis. Sodoende groei hulle self vertroue en word hulle al meer inspireer om oop te wees om die Here se werke raak te sien,..en nie stil te bly daaroor nie….