“Ek het baie maats by die skool wat nie in Jesus glo nie. Van hulle kom uit sogenaamde Christen huise, maar hulle sê hulle glo nie meer nie. Hulle is selfs besig om na nader gelowe te kyk. Ander kom nie uit Christen huise nie. Wat of wie gee my die reg om vir hulle te sê hulle geloof is verkeerd?“ Moenie as ouer skrik as jy hierdie woorde van jou tiener hoor nie. Ons leef in ‘n wêreld waar die strewe na die individu se reg die noodlottige gevolg het dat die realiteit van absolute waarheid gekanseleer is….en sulke argumente soos hierdie gaan vermenigvuldig. Ek waardeer hierdie vraag want ek het self kinders wat hul in ‘n skool opset betref waar nie almal glo nie. Hoe gemaak? So kom ons kyk na hoe om dit te doen. Kom ons gebruik ‘n voorbeeld: Kom ons sê jy staan op ‘n pad. Ver in die pad af is daar ‘n groot afgrond as gevolg van ‘n sinkgat. Jy het ‘n waarskuwingsteken in jou hand. Jy het ook ‘n pad veiligheidsbaadjie aan wat maak dat jy uitstaan. Mense kan nie anders as om jou raak te sien wanneer hulle op die pad is nie. Bygesê, die pad teken wat jy het wys vir die bestuurder ‘n alternatiewe roete, een wat lei na veiligheid. Jy het nou twee keuses: gaan jy wegkruip sodat niemand jou sien nie? Verder, indien jy besluit om wel op daardie pad te bly staan, gaan jy die teken oplig en daarna wys wanneer die bestuurder nader kom? Voor jy die vraag antwoord: onthou, as jy wegkruip, of net daar staan en nie die teken wys nie, gaan almal wat verby jou ry in daardie afgrond afjaag. Is jy bereid om dit toe te laat? Ek dink ons almal wat ‘n hart het sal nie dit doen nie. Kom ek verduidelik die voorbeeld. Jou veiligheidsbaadjie wat jy dra is jou Christen leefstyl. Jy leef anders. In hierdie wêreld is jou lewe as Christen veronderstel om uit te staan, nie te konformeer met die wêreld nie. Dan gaan jy verseker opgemerk word. Die teken wat jy het is die Bybel. Dit bevestig die bron van jou sigbaarheid. Vraag is: “Is daardie teken, die Bybel waar? Wel, ons het al in vorige publikasies daaroor gepraat. Gaan kyk gerus na ons episodes op Geloofstroom op Youtube daaroor. Hier is wel een onafwendbare gevolgtrekking: naamlik dat die Christen geloof uniek is. Ons kyk in die volgende publikasie daarna.