Hoe weet ons dat die Apostels die boodskap van Jesus akkuraat vasgevang het? Hierdie vraag grens aan ‘n vorige argument wat bevraagteken of die Bybel waar is. Tog is hierdie vraag vanuit die invalshoek wat daarop sinspeel dat mense tog nie betroubaar is nie en selfs jok. So dan is daar mos die waarskynlikheid dat die skrywers van die Bybel, soos die apostels ook nie betroubaar kan wees in hulle weergawe nie. Moenie verbaas wees as jou kind met hierdie argument aangevat word nie. Hoe nou gemaak met so ‘n argument? In die eerste plek het Jesus nie net lukraak gepreek nie. Hy het ‘n gestruktureerde proses gevolg en twaalf dissipels baie na aan Hom gehou. Ons lees dat hierdie dissipels Jesus oral gevolg het en seker gemaak het dat hulle inneem wat Jesus gesê het. Verder lees ons in Matteus 24:3 en Markus 13:3 dat Jesus ook die dissipels eenkant geneem het en met hulle gepraat het en hulle geleer het. Jesus het verder die dissipels geleer hoe om die Evangelie te versprei. ‘n Goeie voorbeeld hiervan lees ons in Markus 6:7-11. Die dissipels het ook nie ophou dink en praat oor Jesus se dade en leringe nadat Hy opgevaar het na die hemel nie. Ons lees in Handelinge 1 en dan ook in hoofstuk 2 dat kort nadat Jesus opgevaar het na die hemel die dissipels al in situasies was waar hulle begin vertel het wat Jesus hulle geleer het en wat hulle gesien het. Ons moet die sosio historiese konteks ook in ag neem. Dit was die gebruik van daardie tyd dat die studente van ‘n groot leermeester hulle daarin moes dissiplineer om dit wat hul leermeester sê en doen baie goed onthou word. Studente het geweet dat hulle hard sal moet werk aan hul vermoë om waar te neem, goed te onthou en dan akkuraat weer te gee. Dit is ongetwyfeld dat die twaalf dissipels, hoewel nie veel geskool nie, geweet het hulle sal moet baie fyn oplet en onthou. Laastens, en sonder twyfel die belangrikste, is die leiding en bystand van die Heilige Gees. Jesus noem dit in Johannes 14:26. En in Handelinge kry ons van die treffendste voorbeelde waar die dissipels nie net akkuraat verkondig het wat hulle gesien het en wat Jesus geleer het nie, maar hulle toon ook die vermoë om te wys hoe die Ou Testament al verwys het na Jesus – soos waar Petrus uit die boek Joël aanhaal in Handelinge 2.