Hoe word ek ‘n Christen – die Romeine padkaart

Hoe hanteer jy ‘n vraag van ‘n kind oor hoe om ‘n Christen te word? Daar is ‘n handige metode in Paulus se brief aan die Romeine wat ‘n kind se nuuskierigheid en aptyt vir avontuur prikkel. Mens kan dit aan hulle voorhou as ‘n reis waarop ons gaan, en daar is ‘n kaart in die Bybel, in Romeine, wat ons gaan volg. Langs die pad is daar 5 belangrike bakens:

  1. Ons eerste baken op hierdie padkaart is Rom 3:23. Weens die sonde van Adam en Eva, word ons elkeen op aarde sondig gebore. Sonde verwyder ons van God en maak ons verlore. As ons dit verstaan, kan ons elkeen besef en erken dat ons van geboorte af in vyandskap is met God staan. God het ons gemaak om Hom te verheerlik, maar die sonde bring afstand tussen mens en God. Hoe kom ons dan weer by God uit? 

  2. Die tweede baken kry ons in Rom 6:20-23. Om te erken dat ek deel is van die groep in Rom 3:23 wat gesondig het, en om te berou dat ek God van Sy heerlikheid beroof het, bring my by die baken van baie goeie nuus: God kom bied deur Jesus Christus vir my ‘n geskenk wat ek nie verdien nie: die ewige lewe saam met Hom. God se hart is om die afstand tussen ons en Hom te verwyder en ons ‘n lewe te bied sonder sonde vir altyd. 

  3. Watse plan het God gemaak om sondige mense weer by Hom uit te kry? Ons kry die antwoord hiervan in die 3de baken: Ek kan niks doen om my redding van sonde te verdien nie. Rom 5:8-9 vertel my dat selfs toe ek nog sondig was, toe al was God só lief vir my dat Jesus vir my kom sterf het deur in my plek te kom staan en die gevolge van vyandskap met God te vat. Jesus het kom sterf in ons plek om vir ons sonde te kom betaal, sodat ons nie daarvoor in ewigheid self hoef te betaal nie. 

  4. Die 4de baken kom maak hierdie ONVERDIENDE geskenk nog meer duidelik. Rom 10:9-11 stel dit baie duidelik: ek kan niks uit my eie krag of dade doen om myself te red van sonde nie. Ek moet myself en my lewe oorgee aan Jesus. Dit is wat “geloof” beteken in die Grieks: dat ek Jesus tot só ‘n mate vertrou, dat ek myself aan Hom oorgee. Die Heilige Gees begin dan in ons werk, gee ons krag om te getuig, geestelike gawes en begeerte om Sy Woord meer te leer. Dit alles vul ons met vreugde en hoop om Jesus te volg en uiteindelik vir ewig by Hom te wees. 

  5. As ek my lewe oorgegee het aan Jesus om my só te verander, kan ek sekerheid hê oor my redding van sonde en die ewige lewe? Hierdie 5de baken kry ons in Rom 5:13 wat duidelik aandui dat ons geloof en oorgawe aan God ons red. Dit lê in wat Jesus vir jou gedoen het en wat jy deur genade alleen in geloof ontvang.


Probeer gerus hierdie padkaart avontuur vanuit Romeine. Mens kan dit baie kreatief en lekker maak vir kinders. Mag die Here sy kinders seën.

Verwante Artikels & Video's