Hoekom maak God nie alles beter nie?

As hierdie realiteit al is wat ons het, hoekom maak God hierdie heelal nie beter nie? ‘n Ander manier om die vraag te formuleer kan ook wees: “Hoekom maak God nie hierdie stukkende wêreld dan heel nie?“ Dit is sekerlik ‘n vraag waarmee menige mense worstel, selfs gelowiges. Ek dink die vraag het ‘n baie kort en kragtige antwoord. Kyk na Golgota en die oop graf, en dan is jou vraag beantwoord. God is juis besig om iets te doen aan hierdie stukkende wêreld. Ons kan ook gaan kyk hoe Paulus hierdie vraag op ‘n indirekte manier antwoord. In Efersiërs 3, en dan spesifiek in verse 9 en 10 lui Paulus se stelling soos volg: “Ek moet vir almal duidelik maak hoe God, die Skepper van alle dinge, die geheime plan uitvoer wat nog altyd verborge was. Die doel hiermee is om nou deur die kerk vir al die bose hemelse regeerders en maghebbers te wys hoe allesomvattend die wysheid van God se ewige plan is, die plan wat Hy deur Christus Jesus ons Here tot uitvoer bring.  En wat is hierdie plan: dat almal wat Jesus as hulle Verlosser aanneem, hulle sonde bely, en Jesus as die Seun van God erken, toegang kry tot die ewige lewe saam met God.“ Hierdie woorde van Paulus maak dit duidelik; God is besig met ‘n meester plan om juis ‘n nuwe wêreld vir ons voor te berei, sodat wanneer dit die regte tyd volgens God se beskikking is, Jesus ons sal kom haal om saam met Hom in daardie nuwe, beter wêreld te woon. En terwyl ons wag vir daardie nuwe wêreld, is daar ‘n belangrike opdrag. Hoe ek dit aflei is deur die verwysing na die kerk in die verse wat ons gelees het. Daar is ‘n lied wat Matthew West sing genaamd “Do something”. Gaan luister daarna. As jy Jesus aanneem as jou Verlosser, dan is jy deel van die kerk en as kerk het ek en jy die voorreg om deur God gebruik te word om te wys hoe allesomvattend en wys God se plan is. Jy is geroep om by te dra tot die nuwe wêreld van God. Hoe doen jy dit? Jy vertel vir mense van die Goeie Nuus dat almal wat Jesus bely as Seun van God, deel kry aan ‘n nuwe opwindende wêreld.

Verwante Artikels & Video's