In die misterie in – afsluiting van die God-se-karakter reeks

Ons het hierdie jaar in elke uitgawe gekyk na die manier waarop mens die konsep van God aan veral kleuters verduidelik. Storievertelling is vir daardie ouderdomsgroep die mees effektiewe. Dit hoef nie ‘n intimiderende ervaring te wees nie. God gee vir ons sy Woord, die Bybel, juis om aan die hand van die vertelling van die Bybel, vanaf Genesis tot en met Openbaring, Hom te leer ken. Wanneer ons aan die hand van die Bybel die God van die Bybel aan die luisteraar bloot stel vermy ons die risiko om God in die spreekwoordelike boks te plaas en ons belewenis van Sy karakter te beperk. Soos wat ons lewenslank studente van die Bybel bly, so is die kennisname met die karakter van God en die verstaan van God ‘n proses wat ons lewenslank sal besig hou. Aan die hand van die Bybel kan ons deur verskillende style, soos in die narratiewe styl, op ‘n baie treffende manier die konsep van God vir kinders verduidelik. Die fokus moet egter wees op die begeleiding van kinders om kennis te maak met God – nie met die verwagting om God ten volle te verstaan nie, maar om Hom te leer ken binne ‘n persoonlike verhouding. Die voorbeelde waarna ons deur die jaar gekyk het is allermins die enigste wat ons in die Bybel vind. Wanneer ons kinders leer oor God, moet ons dit dan ook doen in groot afhanklikheid van die Heilige Gees. Dit is my gebed dat Hy jou lei, inspireer en die nodige insig gee om vanuit die voorbeelde wat gedeel is deur die jaar God se karakter meer begrypbaar te maak tot die punt waar jy en jou kinders soos Paulus God sal prys soos in Romeine 11 – hoe wonderlik en prysenswaardig is God. Een van my gunsteling sang groepe, Needtobreethe, het ‘n lied getiteld “Into the mystery”. Wanneer ek na die lirieke luister dan dink ek aan die uitnodiging om God te volg in die misterie in na die heerlikheid wat Hy vir gelowiges beloof. Volg Hom in die misterie in, en jou lofliedere tot God sal vermenigvuldig – nog ‘n lied van daardie sang groep. 

Verwante Artikels & Video's