As ek ‘n Christen is, beteken dit dan dat ek altyd gesond, ryk en gelukkig gaan wees? Hierdie is nie ‘n maklike vraag om te antwoord nie, dog ‘n baie belangrike vraag. Selfs op ‘n vroeë ouderdom is dit belangrik om ons kinders reg te leer rakende hierdie vraag en die belangrike persepsies wat dit kan skep. By Geloofstroom streef ons daarna om kinders (en volwassenes) te leer dat ons altyd na die Bybel gaan om leiding direk uit God se Woord te kry. Kom kyk saam met my na die antwoord soos verwoord in die volgende dele van die Nuwe Testament:
- In beide Markus 8:20 en Markus 8:34 maak Jesus dit duidelik dat, om Hom te volg, nie ‘n lewe van gemak en rykdom waarborg nie. Kyk gerus ook na Johannes 15:20 waar Jesus verder bevestig dat Sy volgelinge tog nie kan verwag om anders deur die wêreld behandel te word as wat Hy behandel is nie. Tog laat Jesus vir ons hierdie kragtige woorde in Johannes 16:33: “…skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.” So, ons kan reeds in hierdie paar aanhalings van Jesus sien dat om ‘n Christen te wees, waarborg nie ‘n voorspoedige lewe volgens hierdie wêreld se standaarde nie..
- Jakobus, wat Jesus se broer was en tot bekering gekom het nadat Jesus opgestaan het uit die dood, sê die volgende in Jakobus 1:2-3: “My broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard.” Terloops, die hele eerste helfte van Jakobus se brief gaan oor beproewing en verleiding; met ander woorde oor die feit dat Christene dit gaan swaar hê in hierdie wêreld.
- En dan is daar Paulus. Hierdie man wat vanuit ‘n hoë posisie, as Fariseër en Romeinse burger, geroep is deur Jesus om die Christen pad te loop. Paulus vertel in 2 Korintiërs 12 vir ons van die dinge wat hy ervaar. Van die doring in die vlees en hoe hy God gesmeek het om dit weg te vat, maar dat God hom laat verstaan het dat juis deur hierdie beproewing werk die krag van Christus voortdurend deur hom. Hoor net hoe Paulus dan reageer in vers 10: “Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk.”
So, wanneer ons as Christene welvaart en voorspoed geniet, moet ons dit tot eer van die Here uitleef. Ons weet tog dat ons deel het aan die ewige vrede en vreugde wat kom in die nuwe hemel en aarde; soos beloof in Openbaring 22. Dit is waarom Paulus in 2 Korintiërs 4:8 met oortuiging kan sê: “Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie; ons is verward, maar nie wanhopig nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie.”