Sommige beweer dat daar niks na die dood is nie. Is dit so? Wat is jou as Christen se siening? Hierdie vraag kan jou nogal heel onvermoeds betrap. Baie keer kan die argument selfs na ons gegooi word dat daar niks na die dood is nie en dat die hel maar net ‘n produk van mense se verbeelding. Maar hoe reageer ons as gelowiges? Mens kan die wind uit die seile vat van die persoon wat jou met so ‘n argument aanvat deur hulle na die boek Prediker te vat. Ek lees in Prediker 9:4 tot 6 en ook vers 10 dat wanneer mense dood is daar niks meer vir hulle wag nie. Daar is nie wysheid of kennis of werk of insig nie. Die boek Prediker wil vir die leser demonstreer hoe futiel dit is om die lewe sonder God te leef. Anders gestel: die Prediker wil vir die leser beklemtoon dat om enige iets in die lewe na te jaag buiten ‘n verhouding met die lewende God ‘n totale mors van tyd, energie en inspanning is. Die skrywer van Prediker gebruik deur die hele boek die kontras tussen die lewe, ware lewe, en ‘n lewe wat totaal leeg is en tot die ewige dood lei. So die patroon van ‘n kontras tussen die lewe en die dood kom deurgaans voor. Let wel; ‘n patroon tussen die lewe – waar jy nog iets omtrent jou ewige bestemming kan doen en die dood – waar jy niks meer kan verander aan die keuses wat jy gemaak het nie. Die skrywer is met ander woorde besig om die boodskap oor te dra dat as jy nie God dien nie, is hierdie lewe soos hulle in Engels sou beweer “as good as it gets”. Maar indien jy met jou verhouding met God erns maak, dan is dit ‘n ander saak. En miskien moet ons net na die einde van Prediker toe blaai. Vers 14 van hoofstuk 12 maak dit duidelik dat daar wel iets na die dood op ons wag. Die oordeel van God wag vir almal. Jy het nou in hierdie lewe die kans om die Vryspraak wat Jesus vir jou bied te aanvaar en dan die oordeel van God deur te gaan met Jesus se betaling aan die kruis, of sonder dit. En as jy sonder dit deur God se oordeel wil gaan is die Bybel ook baie duidelik oor wat vir jou wag.