Is die Bybel nog relevant vandag?

Is die Bybel nog relevant in vandag se samelewing? As ons in gedagte hou dat die Bybel oor die 1,900 jaar terug klaar geskryf is, dan wonder mens of dit nog relevant is in ‘n dag waar tegnologie so geweldig gevorder het. Daar is geen twyfel dat jy of jou kinders met hierdie argument gekonfronteer sal word. En dit het radikale implikasies afhangende hoe ons dit antwoord. Om mee te begin, gaan lees gerus die volgende tekste in die Bybel: Levitikus 17:11, Prediker 1:6-7, Job 36:27-29, Psalm 102:25-27 en Kolossense 1:16-17. In hierdie tekste sal jy vind dat daar wetenskaplike feite is wat eers later deur die wetenskap bevestig is. Ek wil graag die vraag antwoord vanuit twee perspektiewe. Die eerste een is vanuit die perspektief dat die Bybel nie meer relevant is nie as gevolg van die gevorderde wetenskap wat ons het. Maar dan moet ons in gedagte hou dat die Bybel wetenskaplike feite openbaar wat eers baie later deur die wetenskap bevestig is. So, as die Bybel wetenskaplike bevindings staaf lank voordat ons met die beoefening van wetenskap daarby kon uitkom, dan bevestig hierdie eerste perspektief dat die Bybel absoluut relevant is. Die tweede perspektief wat ons na moet kyk is dat die Bybel duidelik riglyne gee oor die mense en hul verhoudings. Daardie riglyne van hoe om te leef in verhouding met die natuur en met ander mense is relevant vir elke kultuur. En hier moet ons onderskei tussen die spesifieke kulturele verskynsel en die beginsel wat onderskryf word. Ons het ongelukkig nie tyd om hierop in te gaan nie, maar hierdie benadering help ons om die verhoudingsbeginsel raak te sien, wat oor die eeue heen relevant bly deur alle samelewings eerder as die spesifieke vorm wat dit aanneem binne ‘n spesifieke kultuur. Dit help ons om nie verkeerde gevolgtrekkings te maak, soos byvoorbeeld om te beweer dat die Bybel voorskryf vrouens moet hoedens dra in die kerk en dit is nie meer relevant nie, en daarom ook nie meer die Bybel nie. Laastens moet ons by die kern van die Bybel uitkom. Dit is hoe God Homself en Sy plan vir die mens openbaar. En dit kom weereens neer op die verhoudings aspek, hierdie keer die verhouding tussen God en mens. Dat die mens verlore is, vasgevang is in agteruitgang en die uiteindelike onafwendbare dood, is relevant vandag nog. En die enigste manier uit dit is die reddingsplan wat God bied.

Verwante Artikels en Video's