Baie mense sal die argument voorhou dat al wat ons nodig het is liefde. En dit word met ‘n mate van aanklag na die Christen geloof gegooi, partykeer met reg. Ons moet almal streef daarna om liefde te betoon teenoor mense. Dit is tog die opdrag van God deur Paulus se eeste brief aan die gemeente in Korinte as ons hoofstuk 16 reg bestudeer: “Laat alles by julle in liefde geskied.“ Maar ons moet versigtig wees om liefde bo die soewereiniteit van God te plaas. Dit is om ‘n wanvoorstelling van ware liefde te doen. So hoe gemaak wanneer iemand vir jou kind die argument voorhou dat: “al wat ons nodig het is die liefde.” Die argument klink gewoonlik so: “As ons almal net kan mekaar liefhet, hoekom het ons Jesus nodig? Gaan dit tog nie maar net oor liefde nie. Dis mos wat genoeg is?” Hier word ‘n baie groot aanname gemaak , naamlik dat ons daartoe instaat is om lief te hê. En nie net sommer lief te hê nie, maar om so lief te hê soos wat die liefde in die Bybel beskryf word. Kyk na Johannes 14:13. Is jy bereid om jou lewe te gee vir iemand? Miskien. Maar hier is die trick, is jy bereid om jou lewe te gee vir iemand wat deur en deur sleg is? Kom ek vra dit anders vir jou: as jy jou lewe gee vir iemand en daardie persoon doen op die ou einde iets groots met hulle lewe. Dit sal jy miskien oorweeg, ne? Maar wat nou as daardie persoon gaan en ‘n slegte lewe leef. ‘n Lewe wat ander mense seermaak en die aarde vernietig. Sal jy vir so iemand sterf? Jesus het. As ons wil sê dat al wat ons nodig het is liefde, dan moet ons liefde in sy volmaaktheid leef. En wie van ons kan dit regkry? Wie het dit al ooit reggekry buiten Jesus? Ons moenie onsself flous nie. Lees net wat staan geskrywe in 1 Johannes 4:19: “Laat ons mekaar liefhe omdat Hy (God) ons eerste liefgehad het.”  Die hele feit dat die mens, wat vreeslike slegte dinge gedoen het en tot baie slegte dinge instaat is as ons maar net na die geskiedenis kyk, enigsens daartoe instaat is om lief te hê, kom van God af. En dan praat ek nou nie van liefde wat eintlik net oor besitlikheid gaan nie. Ek praat van ware Bybelse liefde, soos beskryf in 1 Kor 13.

Verwante Artikels & Video's