‘n Ander gewilde argument wat mense gebruik teen Christenskap en godsdiens oor die algemeen is dat dit die oorsaak is van meeste oorloë. Hoe help jy jou kind om so ‘n argument te hanteer? Ek dink die beste is dat ons dan na die feite toe gaan. Die argument is dat “meeste” oorloë deur geloof veroorsaak word. Meeste beteken dan van ‘n statistiese oogpunt af dat ten miste 51% van alle oorloë in die geskiedenis deur geloof van een of ander aard veroorsaak is. So kom ons gaan toets dan hierdie nommer teen die geskiedenis. Ons kan na die Encyclopedia of Wars gaan en dan sien ons dat van die 1,763 oorloë wat oor die afgelope 5,000 jaar plaas gevind het, kan net 123 (ongeveer 7%) aan religieuse oorsake toegeskryf word. Met ander woorde; ‘n veralgemeende stelling soos daardie sluit eerder ‘n intensie in om ‘n argument te bou dat godsdiens ‘n euwel is. Dan moet mens begin vra wat die rede is om so ‘n argument te bou? Daar is geen twyfel dat daar verkeerde goed onder die vaandel van geloof gedoen is nie. Selfs in die Christen geloof sien ons dit. En wat is God se reaksie daarop? Gaan lees maar gerus ‘n boek soos Esegiël, dan sien jy hoe radikaal God optree teenoor die priesters wat in die naam van die Joodse geloof die verskriklikste dinge gedoen het. Kyk ook na Simon in Handelinge 8 wat gelowig geword het, hom laat doop het en wou doen wat die apostels doen met die intensie om mag te bekom wat hy oor mense kon gebruik. Is dit nie maar ook wat oorlog wil bereik nie? Wat het Petrus vir hom geantwoord? Dit is baie duidelik wat God se siening is oor die misbruik van geloof vir eie gewin. Dit is verkeerd. Die probleem is nie by godsdiens is nie, maar by die sondige natuur van die mens. Soos hulle in Engels sê: It’s the singer, not the song. Maar in hierdie geval is dit in ‘n negatiewe konteks. Niks is fout met die lied nie, maar die sanger het die keuse om dit ten goede of vir sleg te gebruik.