Is jy net ‘n Christen oor jou ouerhuis?

Jy is net ‘n Christen omdat jy in ‘n Christen ouerhuis groot geword het. Hierdie argument word baie keer deur ongelowiges die rigting van ‘n volgeling van Jesus gegooi. Die argument lui soos volg: “Meeste mense neem die geloofsoortuiging aan van die meerderheid in die plek waar hulle groot word. Met ander woorde: in Indië kry ons meestal Hindoes en in Saudi Arabië kry ons meestal Moslems. So daarom kan ons tot die gevolgtrekking kom dat alle mense wat in ‘n sekere geloof aanhang maar net ‘n produk van ‘n sekere kultuur is.“ So die gevolgtrekking is dat die Christen geloof nie die resultaat van redenasie, bewyse of die werking van die Heilige Gees (God self) in jou lewe kan wees nie. Hoe kan jou kind reageer teenoor iemand wat hulle met so ‘n redenasie konfronteer? Lei jou kind om die volgende redenasie toe te pas. Daar is twee probleme met hierdie teorie. In die eerste plek bepaal waar mens aan jou geloof gekom het nie die waarheid van die geloofsoortuiging nie. Dit word bepaal deur deeglike ondersoek na die feite, die geskiedenis en die data bekom deur ‘n wetenskaplike proses. Wanneer ‘n geloofsoortuiging deur al hierdie toetse geplaas word, en dit slaag die toetse, is dit waar – of jy dit nou in jou ouerhuis, by die skool of waar ookal gehoor het. Maar kom ek maak dit bietjie meer duidelik: as ‘n persoon wat totaal geestelik versteur is vir jou kom vertel dat die Bokke in 2019 die Webb Ellis beker gewen het, is dit waar? Natuurlik. Dat jou bron nie soseer toerekeningsvatbaar is nie, affekteer nie die waarheid van die feit nie – die Bokke het die kroon beklink in 2019 as wêreld kampioene. Tweedens, ons lees van talle mense wat in een geloofsoortuiging groot geword het, dan dit begin bevraagteken het, dit ondersoek het en hul geloofsoortuiging verander het. Só het die verspreiding van die Christen geloof vanuit ‘n kamertjie in Jerusalem begin toe die Heilige Gees oor die bang dissipels gekom het, vir hulle die moed, insig en woorde gegee het om te getuig, ongeag watter gevaar hulle in die gesig staar – selfs ‘n martelaars dood. En só het die Christen geloof van ‘n groepie van twaalf oor talle kulturele grense versprei en is steeds besig om te versprei. Ten slotte dan; waar jy grootword kan ‘n invloed uitoefen op wat jy glo. Maar ek wil almal uitnooi om in diepte dan die Christen geloof te gaan ondersoek, of jy nou daarin grootgeword het, (miskien juis dan), of nie. My waarneming is dat die Christen geloof juis uitbrei hoe meer dit bevraagteken, bespot, en onderdruk word.

Verwante Artikels & Video's