Jeugbediening - Geloofstroom
21583
page-template-default,page,page-id-21583,qode-social-login-1.0,qode-restaurant-1.0,woocommerce-no-js,ajax_fade,page_not_loaded,,select-theme-ver-4.4.1,wpb-js-composer js-comp-ver-5.4.7,vc_responsive

Jeugbediening:


Geloofstroom is ‘n vrolike, inter-kerklike selgroep vir laerskoolkinders wat begin is deur die De Kock gesin by hul huis in Midstream, Gauteng. Geloofstroom is begin na ‘n swaar tyd in 2017 waarin die De Kock gesin hul swaer (39 jaar) verloor het aan melanoomkanker, hul oudste dogter (toe 11 jaar) in ‘n perdryongeluk was en twee operasies moes kry, hul jongste hondjie skielik uitgesit moes word, hul substantiewe verbeteringe aan hul huis laat doen het terwyl hul al vier in een kamer in hul huis moes bly, die pa deur ‘n rugoperasie moes gaan, en die ma deur in ‘n loopbaantransissie. Terugskouend is hierdie gebeure bloot gewone uitdagings van die lewe, maar dit was die sameloop van hierdie gebeure in ‘n kort tyd wat die De Kock gesin veral uitgedaag het.

 

Te midde van die traumatiese tyd en hartseer wou hul kinders opbeur en leer om aan Jesus Christus vas tehou, meer as ooit, al kom daar storms, en al gebeur daar dinge wat ons nie verstaan nie. Toe Emmie nog voltyds gewerk het as prokureur, was dit maklik om finansiële bydraes te maak aan die Kerk. Maar wat gee jy as jou hart klein is, en jy nie meer dieselfde inkomste verdien nie? Ons het ervaar dat die Here antwoord: “net wat in jou hand is”. Hul het besef hul mooi nuwe kombuis, drie motorhuise, tyd, en idees hoe om ons kinders meer te leer van die Bybel, alles geskenke is, en meer as genoeg om te deel. God kan vyf vissies en twee broodjies vat en dit vermeerder.

 

Emmie het in 2017 ook‘n 6 maande kursus gedoen om te kwalifiseer as ‘n profesionele “besigheidsafrigter” en ‘n nuwe afrigtingspraktyk vir entrepreneurs en prokureurs begin. Emmie het egter ook bewus geraak van “Christian coaching” as loopbaanopsie en besef hoeveel “coaching” vaardighede kan help om die Bybel vir ons kinders op ‘n speel-speel manier te leer. Hoe meer mens leer van “coaching”, besef mens hoe uitstekende “coach” Jesus was toe hy sy dissipels geleer het. Hy het stories en metafore gebruik wat hulle kon verstaan en sou onthou. Hy het dikwels meer vrae gevra (as wat hy voorskriftelik was), meer geluister, en hul tot eie insigte laat kom, was nie veroordelend nie, en altyd empaties en liefdevol.

 

Die eerste Geloofstroom byeenkoms was in Augustus 2017 by hul huis. Herman as hoof van die De Kock gesin en gekwalifiseerde en gelegitimeerdeNG predikant gee die teologiese grondslag en doen meestal die aanbiedings. Emmie ontwikkel graag die aanbiedingsmateriaal en hanteer die administrasie en logistiek vir die aand. Hul oudste dogter help met die musiekbediening en hul jongste dogter met gasvryheid en verjaarsdae.

 

Dit maak mens nederig om te dink hoe die Here iets moois kan skep uit as, en soveel vreugde en groei kan bring na ‘n swaartyd. Met die bewustheid van ander maats en ouers wat deur baie swaarder tye gaan, is die hoop dat Geloofstroom selbyeenkomste kan help om kinders te bemoedig, sodat hul sterker kan wees vir lewensstorms.

 

Bedieningsoogmerke:

 

Addisioneel tot die oogmerk om kinders te help om geestelik te groei en ontwikkel, en wil leer om Kerk te wees, het die Geloofstroom selgroep ook spesifiek die volgende bedoeling met maandelikse byeenkomste:

 

1. Kinders kry nie meer geleentheid om sommer met hul Bybels van papier te werk nie. Die eerste oogmerk is om hul met hul papier Bybels te laat werk en hul Bybelkennis te verbeter. Bybelonderrig word nie meer gedoen as vak by skole nie. Kinders in die laerskoolfase het nog nie heeltemal oorgeskakel na E-Bybels of selfone nie, en kinders is honger en nuuskierig oor hoe om die Bybels te gebruik.

 

2. Die tweede oogmerk is gesinsbediening, in die sin, dat boeties en sussies van dieselfde gesin, van alle laerskoolgrade op dieselfde aand Geloofstroom kan bywoon. Byeenkomste word gehou vir 3 ure op ‘n Vrydagaand, sodat hul pa en ma ‘n aandjie kan ontspan en opvang met gesprekke wat ‘n mens dikwels as egpaar misloop. Met hierdie gedagte, en omdat Herman en Emmie (die aanbieders) ook werk, is besluit op die formaat van 3 ure op ‘n Vrydagaand, eenkeer ‘n maand, by die De Kocks se huis.

 

3. Die derde oogmerk is om geleenthede te skep vir kinders om te ontwikkel in geestelike leiers deur jonger maats te help en lei. Graad 7 maats kan dus aanmeld om “Roeiers”te wees en geleentheid kry om kleingroepies te lei.

 

4. Met die byvoeging van hierdie webwerf tot die Geloofstroombediening, is die hoop om jeugwerkers en jeuggroepe buite ons geografiese area by te staan met Bybelonderrig en nog meer gesinne aan te moedig en te bedien in ons Geloofstroomfamilie.

 

Gratis aanbiedingsmateriaal:

 

Hieronder is skakels na aan biedingsmateriaal wat ons ontwikkel het vir, en gebruik het by,Geloofstroom byeenkomste vir laerskoolkinders vanaf 2017. Ons maak die aflaai en gebruik van hierdie aanbiedingsmateriaal gratis beskikbaar aan ouers, ander kinderbedienings of kleingroepleiers, soos dit behulpsaam mag wees. Hierdie materiaal is nie beskikbaar vir verdere publisering of kommersiële gebruiknie. Geloofstroom moet aanhou aangedui word as outeursregeienaar. Outeursreg bly vestig in Geloofstroom.

 

Les
Temaenlesinhoud
Datum aangebied
1.
Emojis
Oktober 2017
2.
Kersfees
November 2017
3.
Paulus
Januarie 2018
4.
Hoe werk God?
Februarie 2018
5.
Hoe werk ek?
Maart 2018
6.
Moses
Junie 2018
7.
Dankbaarheid
Julie 2018
8.
Daniël
Augustus 2018
9.
Skepping
Oktober 2018
10.
Die storie van sonde
April 2019

 

Ondersteun of raak betrokke:

 

Kontak ons gerus as dit in jou hart brand om ‘n selgroep vir laerskoolkinders te begin en ons jou kan bystaan en bemoedig.

 

Ons is afhanklik van die Heilige Gees om ons te lei en in ons kinders se harte te werk. Ons vra ons broers en susters in die geloof om asseblief vir ons en die kinders en gesinne wat geraak word deur hierdie bediening te bid.

 

Ons jeugbediening word befonds deur donasies en inkomste van ons professionele afrigtingsdienste. Indien jy gelei voel om addisioneel finansieël tot ons bediening by te dra, kontak ons gerus vir ons bank besonderhede. Mag jou finansiële bydrae vir ewigheidswerk rente lewer op jou skatte in die hemel.

 

Ons leer ook ons kinders die vreugde en opdrag van gee. Geloofstroom het die voorreg om jaarliks deur middel van donasies Kersgeskenke te skenk aan kinders van behoeftige gesinne in Rooihuiskraal, Centurion. Hierdie donasies word ontvang van ouers betrokke by ons jeugselgroep. Ons ondersteun ook die projekte van plaaslike gemeentes. Ons sal graag nog meer liefdadigheidsprojekte wil onderneem.


© 2019 Geloofstroom