“Ek soek bewyse, watter bewyse het jy?” Meeste volgelinge van Jesus Christus gaan met hierdie woorde gekonfronteer word. In vandag se samelewing met ‘n illusie dat die wetenskap ons bevry het van ‘n wettiese en eng godsdiens verslawing moet ons ook nie verbaas wees dat ouers hulle kinders indoktrineer met die klug dat die wetenskap ons al die antwoorde kan gee nie. Dit plaas ‘n geweldige onus op ouers. ‘n Ouer wat hulle kinders net los om deur die sosiale media verswelg te word, sonder om met hulle gesprekke daaroor te hou en om vanuit die Bybel se perspektief daarna te kyk, doen bykans dieslefde as ‘n ouer wat kinders met opset probeer indoktrineer weg van Jesus af. So ons moet nie verbaas wees wanneer ons kinders of van die skool of van die universiteit kom groot oog en met ons deel dat hulle uitgedaag is om feite te gee vir hulle geloof nie. Hoe help ek my kind om so ‘n aanslag te hanteer? Ons anker bly die Woord van God, die Bybel. In Johannes 14:26 gee Jesus vir sy dissipels die gemoedsrus dat hulle die woorde sal ontvang van die Heilige Gees om die vrae te beantwoord en te getuig. So doen Petrus dan ook byvoorbeeld in Handelinge 2 waar hy uit die boek Joël aanhaal. Maar voordat ons na die Bybel gaan om ‘n aanspraak op bewyse te hanteer, moet ons eers die persoon help om te verstaan wat ons plek is in die opset: ‘Wanneer jy vra vir bewyse, waar plaas jy jouself? In die regbank as regter natuurlik. Is jy seker jy is die regter? Wat gee vir jou die reg? Wat of wie plaas jou in die posisie om jou oor ander uit te spreek? Het jy ‘n beter lewe as ek? Het jy ‘n lewe wat getuig van geen foute nie? Het jy ‘n lewe wat sonder enige verkeerde dade is, totaal perfek en volmaakte gedrag? Nee. Niemand van ons het nie. Met ander woorde: jy kan nie vir bewyse vra nie, want jy is saam met my in die aanklag bank. Jy is nie in die regtersbank nie. O, en moenie eers probeer om die aanklaer en verdediger banke in te neem nie. Daardie plekke is klaar gevat. So, voordat ons oor die feite en bewyse begin praat, besef eers watter bank jy op sit in hierdie scenario. Jy sit op die aanklag bank. Moenie bekommer nie, daar gaan genoeg bewyse wees. Vraag is: “Is jy bereid om te waag om jou eie verdediger te wees?” Openbaring 20:11-15 vertel baie duidelik wat gaan gebeur met hulle wat nie hulle op die Verdediger beroep nie. Wil jy daardie kans vat?