Kenmerke van ‘n regverdige (Deel 2)

Ons het in die vorige publikasie gekyk na waar regverdigwording begin deur na Dawid se Psalm 32 te kyk. Dawid verwys na homself as ‘n regverdige. En vanuit Dawid se lewe word dit duidelik dat ‘n regverdige die titel nie verkry is deur sy eie doen en late nie, maar deur sy uitroep na die die genade van God. Geloofstroom se fokus is om juis vanuit die Bybel ons kinders te leer. En Dawid se voorbeeld kan baie kinders help om van kindsbeen af al te leer dat hulle nie deur God aanvaar word op grond van hulle dade nie – wat lei tot selfregverdiging, maar dat dit begin by ‘n uitreik na God. Psalm 37 is ‘n skrywe van Dawid wat ons help om vir kinders te wys waar Dawid die wortels begrawe het as dit by regverdigwording kom. Toe ek weer deur Psalm 37 gelees het, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat indien jy ‘n omvattende definisie gesoek het vir ‘n regverdige, dan is hierdie Psalm ‘n goeie vertrekpunt. Lees gerus verse 3 tot 5. Soos in die vorige publikasie is die oog van hierdie rivier van regverdigheid vertroue op God, (klem val op vertrou Hom met jou hele lewe), en vind in Hom jou vreugde. En wat is die resultaat? Vers 6 gee dit: God sal jou regverdigheid laat skyn. Verse 7 tot 11 gaan voort om kenmerke van ‘n regverdige te gee – wag in stilte en geduld op die Here, moenie jou bemoei oor of vergelyk met andere nie, (fokus op God), moenie kwaad word nie, maar wees sagmoedig. Vers 16 gaan verder deur te beklemtoon dat ‘n regverdige nie op die rykdom, status of besittings van hierdie sondige wêreld vertrou nie, maar eerder op God. Hoekom? Want die Here ken ons lewensdae en ons erfdeel sal nooit verdwyn nie (vers 18). Daarom is die regverdige vrygewig (vers 21) en leen ruimskoots aan ander (ver 26). Aan die einde van die Psalm in vers 31 en 34 word ‘n baie belangrike punt gemaak – die regverdige maak erns met die Bybel. Hulle bestudeer dit en gee die nodige erkenning aan die gesag van die Woord van God. 

Verwante Artikels & Video's