Kersfees – die Christen benadering

Hoe kyk julle as Christene na Kersfees? Ons is weer by daardie tyd van die jaar en hierdie is ‘n baie belangrike vraag om vir ons almal as volgelinge van Christus te vra. En dit is belangrik om vanuit die Bybel hierdie vraag te benader. Ons weet dat tydens hierdie tyd van die jaar dit baie gewild is om die geboorte verhaal van Jesus te lees. Spesifiek die gedeeltes uit Matteus 2 en ook uit Lukas 2. En dit is goed dat ons dit lees en daaroor nadink. Wat is die beeld wat ons kry vanuit dit? 1) Vreugde, 2) Opwinding, 3) Jesus die baba in ‘n krip, 4) Herders en geleerde reisigers wat meegelseur word deur engele. Maar ons moet ook terugstaan en die hele prent van God se betrokkenheid met die mens sien. Daarom moet ons so ver terug gaan as Genesis waar God al die plan aan mekaar sit om vir die mens hoop te gee. Hoop om uit die ontsnapbare spiraal van sonde en die gevolg daarvan te kom. Dan kan ons maar reflekteer op die profete wat deur die Ou Testament die eggos laat hoor van God se plan om die Een te stuur wat die kop van die bose sal inslaan, met ander woorde oorwin en vernietig. Die Evangelies soos Matteus en Lukas gee vir ons die opwinding van die koms van die Een wat beloof is, soos deur die profete se woorde. Tog is dit belangrik om vanaf die krip ook te kyk na die woorde en dade van die Een wat sou kom. En natuurlik na die kruis en die oop graf. Dan raak ons perspektief wyer om anders na hierdie baba in die krip te kyk as wat ons na enige ander baba sal kyk. Die Evangelie van Johannes maak ook ‘n ander baie belangrike perspektief vir ons oop, naamlik die konsep van Jesus se ewigheid en dat ons Jesus se woorde, elke woord, ernstig kan en moet opvat. En die konsep van die Woord van God, wat by God was, self God is en wat alles gemaak het soos in Johannes 1, skakel dan met die kragtige beskrywing van Jesus deur Paulus in Kolossense 1. Let op vers 17; “Hy was daar voor alles, en in Hom word alles saamgebind.” En dan maak Paulus se beskrywing van Jesus in Kolossense die skakel na Openbaring waar ek sien dat hierdie baba in ‘n krip die Almagtige is wat finaal met die bose afreken en self die lig vir die nuwe hemel en aarde is. So in konklusie, vir ons as Christene, is Kersfees nie ‘n soetsappige, kommersiële ervaring wat gesus word deur ‘n baba in ‘n krip nie. Ons kyk na die Skepper van die heelal wat kies om van sy glorie posisie afstand te doen, in der waarheid al voor die skepping van alles so besluit het, en dan daardie besluit deurvoer. Wanneer ons na die baba in die krip vanuit die prespektief vanaf Genesis tot en met Openbaring kyk, kan ons maar met gerustheid en in volle dankbaarheid Hom aanbid en hom vertrou. Hy doen wat Hy beloof het. Ek hoop dat hierdie perspektief vir jou ‘n baie diepere en lewensveranderende ervaring op Kersdag sal gee.

Verwante Artikels & Video's