Leer die skepping só vir jou kinders

As gelowige ouers begin Jesus se opdrag om te getuig by die huis. Voeg die eise van die moderne leefstyl sowel as al die afleidings wat die Jones’s oorkant die straat vir jou mee staan en waai saam met die harwar van kinders kos gee, bad en gereed kry vir die volgende dag van skool en skielik is die taak om Bybelstudie saam met jou kinders te doen baie intimiderend. Oor die verloop van 12 artikels gaan ons hierdie jaar kyk na riglyne wat jou as ouer sal help om die taak van evangelisasie by die huis met vertroue aan te pak. Die Bybel is die soewereine en onfeilbare Woord van God. Net soos wat die Heilige Gees deur gewone mense Sy boodskap aan die mensdom op skrif gestel het, so moet jy ook vertrou dat die Heilige Gees deur jou sal werk. Dit gaan nie oor bevoegdheid nie, maar beskikbaarheid – Hy sal die res doen. Kom ons kyk byvoorbeeld na Genesis hoofstuk 1. Lees die skeppings gebeure tydens julle gesins Bybel studie en fokus op die volgende belangrike boodskappe. In die eerste plek is daar in die Hebreeuse grond teks ‘n punt na die eerste sin. God het vanuit niks alles gemaak – dit is nie oop vir debat nie. Inteendeel, die uitnodiging aan die mens is om deur diepe bestudering en ontginning van die skepping met die toepassing van al die wetenskaplike beginsels tot ons beskikking te ontdek hoe alles ontstaan het. Dit bly ‘n opwindende avontuur wat vir meeste van ons ‘n leeftyd sal neem om eendag voor God te staan en te sien hoe die dowwe spieël verander in volle begrip. Tweedens is daar die tema van die struktuur en orde waarmee God alles gemaak het. ‘n Handige aktiwiteit saam met kinders is om die skeppingsverhaal te teken in tabel vorm – plaas dae 1 tot 3 onder mekaar en dan dae 4 tot 6 teenoor dit. So ontdek ons dat dag 1 die skepping van ruimte was waarbinne die skeppings (son, maan, ander hemelliggame) van dag 4 ingepas is. En dan was dag 2 die skepping van die ruimte waarbinne die visse en voëls leef, ensovoorts. Dit is ‘n baie kreatiewe oefening wat die hele gesin betrek met blywende insigte oor God; die Skepper van harmonie, struktuur en orde. Laastens moet ons na Kolossense 1 gaan om te sien dat God deur sy Seun Jesus Christus alles geskep het en dat Hy die hele skepping in balans hou. Dit help ons om te besef dat Hy nie afwesig is in hierdie deurmekaar wêreld nie. Hy is ten volle in beheer en betrokke in ons lewens. In die artikels wat volg sal ons aandui waar ouers vanuit ons Geloofstroom webtuiste handige inhoud vir Bybel studie kan aflaai.

Verwante Artikels & Video's