Ons leef in ‘n wêreld waar die media leiers voorhou wat staan vir die konsep van beheer neem, self prestasie en sukses. Sonder dat ons as ouers dit opmerk, kruip daar ‘n kultuur in by ons kinders wat prestasie behep is. In sekere gemeenskappe is daar selfs deesdae ‘n mentaliteit dat as jy nie negentig of meer kry vir ‘n toets en eksamen nie, dan is dit nie goed genoeg nie. As ouers moet ons intree en vir ons kinders perspektief gee. Vra bietjie vir jou kinders wie hulle sien as die leiers in die skool. Gaan dan verder om hulle te vra hoekom hulle daardie persone sien as leiers. Baie keer is die antwoord omdat hulle in die top tien akademies is, hulle die beste in sport presteer, gewild is en dan word die balkies op die baadjie afgerond met ‘n kultuur item. En dan gaan dit verder; dit is gewoonlik diegene wat die “besigste” is. Ons moet ons kinders leer dat, hoewel dit wonderlik is as iemand sulke talente het, dit nie ‘n kwalifikasie of vereiste vir leierskap is nie. Kom ons leer ons kinders om in die heel eerste plek te leer hulle is genoeg. God het hulle gemaak met gawes en talente wat Hy vir hulle gegee het om Hom te verheerlik. Dan kan ons die volgende stap neem om vir ons kinders te laat verstaan dat leierskap begin daar waar jy nie meer op jou prestasies fokus nie, maar op die potensiaal wat daar in ander is en hulle dan só inspireer dat hulle doen wat hulle nie gedink het hulle kan nie. Dawid se leierskap is een voorbeeld van hoe ons kinders kan leer. Lees maar Psalm 25 om weer te sien hoe Dawid hom tot God rig vir krag en insig om sodoende sy leierskap te stuur. Ons is almal vertroud met die Dawid en Goliat kontras. Wel, het jy al gehoor van die Dawid en Saul kontras? Saul se leierskap was gebou op sy krag, sy status en sy intimidasie. Dawid se leierskap, ware leierskap, het begin by sy afhanklikheid aan God vir alles – wat hy dink, wat hy doen en elke tree in sy lewe – lees gerus Psalm 141.