In Psalm 116 vers 12 vra die skrywer wat hy kan doen om die Here te dank vir alles wat Hy vir hom gedoen het. En dan in vers 13 kom die treffende woorde: “Ek sal die beke van redding optel en die Naam van die Here aanroep.” Ons het baie keer ‘n baie eng siening van lofprysing. Die proses waardeur ons die Naam van die Here aanroep en hom loof en prys kan allermins beperk word deur ons konvensionele en kontemporêre verstaan van lofprysing. Soos wat die Psalm digter in Psalm 116 vir ons wys gaan lofprysing om baie meer as galmende simbale en stemme in akoestiese harmonie. Dit kan, en moet, ook gaan oor die aanvaardig, ja omhelsing, van die kragtige werk wat God vir ons deur Jesus Christus bewerk het aan die kruis. So dit kan selfs gebeur sonder die uiting van ‘n geluid. Waarlik, lofprysing gaan oor sang, toewyding, fokus, omhelsing van alles wat God vir ons gedoen het, en nog vele meer.
Geloofstroom se primêre doel is om vanuit die Bybel te leer hoe elke mens, kind en volwassene, ons lewe moet inrig tot eer en verheerliking van God. En as dit by lofprysing kom, gaan ons ook na die Bybel om vir die kinders tydens ons Vrydag aand byeenkomste een maal per maand te leer hoe ons Hom loof en prys asook hoekom ons dit doen.
Alleenlik wanneer ons die Bybel se riglyne vir lofprysing volg kan die volle Gees geïnspireerde belewing van die verheerliking van God se Naam na vore kom. Dit is dan wanneer ons saam met Hawk Nelson, Mercy Me, Hillsong om maar net ‘n paar te noem uit volle bors kan sing en beleef hoe ons deur dit, maar ook deur stilte en dankbare aanvaarding van God se genade die Here se Naam groot maak. Dit is lofprysing.