Michael W Smith begin een van sy liedere met die woorde: “With a spirit of heaviness, put on the garment of praise.” Ware woorde! Juis omdat hy dit vanuit die Bybel kry. Lofprysing is ‘n baie belangrike deel van ons geloofsgroei van kindsbeen af. Dawid stel ook vir ons die voorbeeld waar hy as kind en jong man graag tot God gesing het. Dit is belangrik om van vroeg af ons kinders te leer dat hulle hul liefde vir musiek (wat integraal deel van elke mens is) ook in hulle tyd saam met God en tot eer van God kan uitleef. Doen gerus die moeite om ook in jou Bybelstudie tuis saam met die hele gesin lofprysing in te werk. My ervaring is dat die lofprysing musiek waarna ek luister en soms saamsing my help om op baie spesiale (of eerder meer emosioneel vervulde) manier met God te kommunikeer. Daar is vandag so baie nuwe liedere en in soveel meer genres. Hoe help ek my kind om te weet wat reg is? Die eerste advies is om in lyn met die Bybel te bly. Daar is sekere liedere vandag wat ‘n baie lekker ritme verskaf, maar die lirieke is nie in lyn met die Bybel nie. Leer jou kinders van vroeg af om lief te word vir liedere wat hul oorsprong vanuit die Bybel kry. Ek dink sommer vinnig aan liedere wat op bekende gedeeltes in die Bybel gebaseer is soos Filippense 4:4, “verbly jou in die Heer”, Matteus 11:28, “kom na My toe…” en dan die bekende Johannes 3:16 “want so lief het God die wêreld gehad”. Hierdie benadering help jou kinders om belangrike verse in te onthou en om alle liedere aan die maatstaf van die Bybel te oordeel. Laastens is dit belangrik om jou kind die ruimte te gee om hulle lofprysing in hulle styl, (maar altyd in lyn met die Bybel), uit te leef. Dawid leer ons om met volle oorgawe God te loof, maar dit is belangrik om te onthou dat die belangrike is wat in jou hart gebeur. Vir sommige loop dit oor tot ‘n oplig van hande of te gaan op jou knieë terwyl dit vir ander bloot diepe refleksie in jou binneste is oor die woorde wat jy sing – daar is plek vir almal.