Dit was baie bekenisvol om die jaar van 2023 te spandeer aan riglyne vir ouers om hul kinders te help hoe om vrae (of aanvalle) oor die Christen geloof te hanteer. Weens die positiewe terugvoer het ons by Geloofstroom besluit om die nuwe jaar se inhoud in Juig tydskrif steeds op hierdie tema te spandeer. Ons wil alle ouers ook uitnooi om vrae rondom die hantering van vrae oor die Christen geloof te stuur na info@geloofstroom.co.za. Ons leef in ‘n samelewing wat baie klem plaas op die aanvaarding van ander se regte. Dit gaan tot die ekstreme waar ons selfs manipulering van die interpretasie in die Bybel sien – gewoonlik met ‘n agenda om sekere groepe se regte te laat geld. Ek dink ons vergeet die soewereiniteit van God en dat alles aan Hom ondergeskik is. Een argument wat ons kant gegooi word lui soos volg: Ons lees dat Jesus met tollenaars en prostitute gekuier en geëet het. So dit beteken dat Jesus mos almal en alles aanvaar? Ek dink ons kan weer van uit Jesus se voorbeeld in die Evangelies ‘n baie duidelike antwoord hierop kry. En dit kan ons dan ook help om te verstaan hoe ons moet optree teenoor alle mense – of hulle nou gelowig is of nie. Voordat ons na die Evangelies gaan kyk, dink ek dit is gepas om in die konteks van die vraag na die profeet Maleagi te gaan kyk. Maleagi praat names die Here baie sterk met die priesters wat laks geraak het in die toepassing van die wet. Hulle het die Here geminag deur dubbele standaarde en deur goed toe te laat in die tempel diens deur “grys” areas te tolereer. Ons moet baie mooi besef dat daar geen grys area kom wanneer daar oor die gehoorsaamheid aan God gepraat word nie. So, al reeds in die Ou Testament is dit baie duidelik waar God staan oor ongehoorsaamheid teenoor Hom. In Jesus antwoorde draai Hy nie doekies om nie. Hy antwoord reguit. Kyk byvoorbeeld hoe Jesus die Samaritaanse vrou in Johannes 4 behandel. Hy weet goed wat in haar lewe aangaan. Tog is Jesus vriendelik teenoor haar en hou vir die vrou die Koninkryk van God voor – ‘n toegang wat net deur Jesus gegee kan word. Kyk ook na die vrou wat die Farisiërs gebring het om gestenig te word. Sy was mos gevang met owerspel. Jesus laat die Farisiërs toe om hulle klag te lê. Maar Hy antwoord hulle reguit. En dan is Jesus se reaksie tot die vrou weer vriendelik, maar met ‘n baie reguit antwoord: Gaan sondig nie meer nie. En so leer ons wat genade is. Dit is allemins ‘n aanvaarding van alles. Genade maak baie duidelik dat iets nie reg is nie, maar gee tog vir die oortreders die geleentheid om hul lewe om te draai.