Moenie Beethoven blameer nie

Jou kind gaan een of ander tyd met iemand te make kry wat die rede om nie in God te glo hang aan wat die kerk op groot skaal of iemand in die kerk aan hulle of aan ander mense gedoen het. Dit lui gewoonlik so: “Ek glo nie in God nie, want ek het gesien hoe die mense in die kerk optree. Dit gee vir my rede om nie te glo nie.“ Dit is belangrik om nie sulke optrede van die kerk en sy mense te ontken nie. Daar is baie voorbeelde van gruwelike, en totaal onBybelse dinge, wat die mense in die kerk gedoen het in die verlede. Dit laat my dink aan wat Philip Yancey, ‘n baie bekende Christen skrywer, deel in een van sy boeke. Hy is ‘n groot klassieke musiek liefhebber wat gereeld na opvoerings van professionele simfonie orkeste gaan luister.  Die een keer het hy gaan luister na ‘n laerskool se orkes wat gepoog het om ‘n baie moeilike stuk van Beethoven, (‘n geskiedkundige komponis), op te voer. Die ervaring was pynlik vir enige klassieke musiek fynproewer, om die minste te sê. Na die opvoering het die gedagte Yancey getref: hierdie voorbeeld kan baie kragtig gebruik word in die konteks van mense wat hul verwerping van God probeer staaf deur kerkgaande mense se optrede. Hoe so? Wel, kyk na hierdie laerskool orkes se opvoering: dit was een afgryslike uitdrukking van ‘n perfekte stuk deur Beethoven op papies vas geink. Wie is te blameer vir hierdie klassieke smaak se onsmaaklikheid? Is dit Beethoven? Natuurlik nie! Die skool, dirigent en orkes moet die volle verantwoordelikheid vat. En almal sal daarmee saamstem. Sal dit maak dat mens nooit weer na Beethoven wil luister nie? Natuurlik nie! Maar dit sal maak dat jy mooi dink na wie jy gaan luister wanneer die opvoering van daardie stuk gepoog gaan word. Dit laat mens baie dink aan die gemeente in Berea volgens Handelinge 17:11. Ek dink hulle het die balans gevind. Hulle het selfs dit wat Paulus en Silas verkondig teen die Bybel gaan toets. So die antwoord vir iemand wat sê: “Ek glo nie in God nie wat kyk net wat het die kerk en sy mense al aangevang“, moet soos volg wees: “Hou jy van rugby? Wel, wanneer die skeidsregter swak blaas of die bokke net eenvoudig swak speel, gaan jy ophou om rugby te kyk? Wie moet verantwoordelikheid vat vir ‘n verloor, William Webb Ellis wat die vader van die spel, of hulle wat die spel swak uitgevoer het?“ Die antwoord is vanselfsprekend. Jy kan ook Yaney se ervaring vertel en dan afsluit met die standpunt: “As jy ten volle saamstem dat jy nie vir Beethoven kan blameer nie, hoe kan jy God blameer?“

Verwante Artikels & Video's