Noem Dawid en Oorwinnaar in dieselfde sin en die prent wat onmiddelik in almal se gedagtes opkom is Dawid wat Goliat met een klippie uit sy slingervel grond toe laat tuimel. Hierdie is die gebeurtenis wat gemaak het dat Dawid se dade tientallig groter geag was as die van Saul (vergelyk 1 Sam 18:8). As ons na die heldedaad van Dawid in 1 Samuel 17 kyk, dan is daar ‘n paar belangrike goed wat ons almal kan leer rakende Dawid se oorwinning. Reeds in vers 26 van hierdie bekende hoofstuk in 1 Samuel kry ons ‘n blik op die bron van Dawid se oorwinning. Dawid kyk nie na God as ‘n gelyke teenoor die ander gode nie. Vir Dawid bestaan daar geen ander god nie, anders as van die dapper soldate rondom hom. Hierdie vaste wete van Dawid weergalm deur die Psalms. Lees Psalm 18, kyk spesifiek na vers 32, en Psalm 19 om hoe Dawid God as die Almagtige en Enigste sien. En dan is daar Psalms 27 wat gelees kan word as die bron van waar Dawid se getuienis in 1 Sam 17:34-37 kom. In net die volgende Psalm maak Dawid dit ook baie duidelik in vers 6 en 7 dat hy God te volle vertrou. ‘n Verdere treffende ding wat ons kan leer van Dawid se oorwinnings is dat Dawid deurgaans nederig gebly het. Kyk maar na die voorbeelde in 1 Sam 18:23 hoe Dawid reageer na die groot oorwinnings wat hy behaal het. Een van die treffendste dele wat Dawid se nederigheid en agting vir God deur alle oorwinning bevestig is die lied wat hy vir God gee in 1 Kronieke 16. Lees gerus van vers 8 tot 36 en sien hoe Dawid, die groot oorwinnaar, in al sy oorwinnings deurgaans na God wys. Die eer van God is al wat vir hom saakmaak.
Kern gedagtes en teks verse:
Gedagte | Vers |
|---|---|
Dawid vertrou alleen op God. | Psalm 25 en 27 |
Oorwinning gaan vir Dawid net oor die heerlikheid van God. Vir Dawid is oorwinning gelyk aan die grootmaak van God se naam. | 1 Sam 17:45 |
Vir Dawid is God die bron van oorwinning, niks anders nie. Hy maak nie staat op sy of enige iemand anders se kragte nie. | 1 Sam 17:47 |