Selfvertroue uit Dawid se lewe

Selfvertroue is iets waarmee ons almal soms sukkel. Veral so aan die begin van die jaar. Vir kinders, en veral vir die ouderdomme wat die tiener jare betree en deurgaan, is dit ‘n groot en belangrike onderwerp. Geloofstroom se benadering is om deur die leer van die Bybel te demonstreer hoe mens die lewe moet benader. Dr John Barnett het ‘n kragtige stelling eenkeer in ‘n preek gemaak: “The Bible helps us to not only learn from the past, but to know how to live our lives in the present, with our eyes and hope set on the future.” Hierdie benadering kom ook handig te pas wanneer ons tieners en jongmense leer oor selfvertroue vanuit die Bybel. In 2021 gaan ons vanuit die lewe van Dawid kyk wat ons kan leer oor belangrike onderwerpe in die lewe van elke tiener, soos selfvertroue, groepsdruk, hoe om boelies te hanteer ensovoorts. Dawid se selfvertroue byvoorbeeld in 1 Samuel 17 is verstommend. Eers lees ons dat hy nie eers deur sy eie pa en broers waardig geag word om deur Samuel gesalf te word nie en dan, selfs wanneer hy vorder to Saul se wapendraer wissel hy dit af tussen sy skaapwagter status en om kos vir sy broers aan te dra na die front waar hulle die manne is wat veg. Gaan lees maar net die Psalms en dan sien mens dat menige Psalm van Dawid gesaai is met mense wat sy ondergang wil bewerk. Ten spyte van dit alles het Dawid die selfvertroue om vir Goliat aan te vat en deurgaans ‘n dapper vegter en koning te wees. Waar kry Dawid sy selfvertroue? Psalms 27:4 en 63:2-9 is maar twee van vele dele wat vir ons die sleutel tot Dawid se selfvertroue gee: hy soek deurgaans na God en oordink God se Woord gedurig. Dit gee nie net vir hom selfvertroue nie, maar bou ook sy selfbeeld. Daarom dat hy in Psalm 139:14 kragtig kan wys hoe sterk sy selfbeeld is.

Verwante Artikels en Video's