Vriendskap – Dawid en Jonatan

Mens sal ver soek om ‘n mooier voorbeeld van vriendskap te kry as die van Dawid en Jonatan. En vriendskap is so belangrik vir elke kind, veral wanneer hulle die op-en-af jare van tienerskap betree. Spreuke 18:24 beklemtoon die belangrikheid van die regte vriendskap. Wanneer ons deur 1 Samuel werk, sien ons hoe hierdie wyse woorde van Salomo in die praktyk vorm aanneem en ‘n aantal baie belangrike kenmerke van vriendskap gee wat, soos Spreuke 18:24 dit stel, lei tot ‘n hegter band as broederskap. Die eerste kenmerk kry ons in 1 Sam 18:3 waar Jonatan sy mantel, gordel, boog en swaard vir Dawid gee. Dit is betekenisvol dat Jonatan, die kroonprins, sy uitrusting wat juis sy status verkondig oorgee aan Dawid. Vir Jonatan is sy vriendskap met Dawid meer kosbaar as sy status. Het jy vriendskap waar jy dit wat vir jou kosbaar is gee vir daardie vriend? In vandag se terme kan tyd maklik kwalifiseer as dit wat vir ons kosbaar is. ‘n Verdere kenmerk van hierdie diepgaande, Bybelse vriendskap kry ons in 1 Sam 20:14-17 waar Dawid en Jonatan hulle getrouheid aan mekaar bevestig. Ongeag hoe moeilik dinge raak, of hoeveel tyd verbygaan, die trou wat Dawid en Jonatan aan mekaar sweer staan vas. Ons sien ook verder dat Jonatan sy vriendskap met Dawid bo sy eie persoonlike belange plaas wanneer hy, ten spyte van sy reg tot die troon as kroonprins, homself ondergeskik stel aan Dawid as die gesalfde (vergelyk 1 Sam 23:16-17). Die treffende van hierdie laasgenoemde verse is ook die mooi voorbeeld van hoe Jonatan Dawid versterk in sy geloof en hom bemoedig – nog ‘n kenmerk van Bybelse vriendskap. Die sleutel tot hierdie kenmerke van Dawid en Jonatan se vriendskap is dat hulle God in hulle vriendskap erken. Deurgaans lees ons dat hulle die Here as die fondament van hulle vriendskap erken (1 Sam 20:42). 

Kern gedagtes en teks verse:

Gedagte
Vers
Die regte vriendskap kan meer opbouend en hegter wees as bloed familie.
Spreuke 18:24
Bybelse vriendskap word geken deur opoffering.
1 Sam 18:3
Bybelse vriendskap word geken deur getrouheid aan mekaar, ongeag die omstandighede.
1 Sam 20:14-17
Bybelse vriendskap maak dat mens bereid is om goed op te offer ter wille van jou vriend.
1 Sam 23:16-17
Bybelse vriendskap word geken deur mekaar te versterk en bemoedig, selfs ook in geloof.
1 Sam 23:16
Bybelse vriendskap, wat die engiste blywende en ware vriendskap is, word gekenmerk deur God wat die kern van die vriendskap vorm.
1 Sam 20:42

Verwante Artikels & Video's