Waar begin regverdigwording? (Deel 1)

Het jy al opgelet wanneer jy Dawid se Psalm lees hoe baie die konsep van “regverdige” voorkom? Elke keer wanneer ek daardie woord lees wonder ek hoe ek opweeg teenoor die konsep. Kan ek enigsens myself as ‘n regverdige sien? Met hierdie vraag word ek dadelik gekonfronteer met die realiteit dat my lewe nie vlekkeloos is nie. Dit vat maar net ‘n refleksie van my doen en late (en veral gedagtes) die afgelope week en dan verwater daardie woord baie vinnig as ek myself moet beskryf. Hierdie tipe denke is meer algemeen as wat ons dink. En dit ontwikkel baie vinnig in hoe ons dink en praat oor ons Christenskap. En ons kinders observeer en neem in. Voor ons nog bewus is daarvan is ons kinder onder die indruk dat die kenmerk van ‘n Christen is ‘n foutlose lewe. En saam met daardie denke volg selfregverdiging, bevooroordeeldheid en om ‘n lang storie kort te maak is die eind resultaat die rede dat Philip Yancey ‘n treffer moes skryf genaamd “Vanishing Grace – What ever happened to the Good News”. Nee, kom ons gaan leer by Dawid waar begin regverdigwording. Baie van Dawid se Psalms gee vir ons ‘n idee van waar regverdigwording begin. Kyk na Psalm 32, om maar net een voorbeeld te noem. In hierdie Psalm gee Dawid twee begin punte vir regverdigwording. Dit begin daar waar ons ons sonde voor God bely en waar ons ons totale afhanklikheid aan God bely deur gebed, lofprysing en danksegging. So leer ons dat om ‘n Christen, ‘n regverdige, te wees nie geken word deur ‘n vlekkelose lewe nie. Dawid sin was allermins! Nee, ‘n Christen, ‘n regverdige, word erken deur doen en late wat getuig van sonde belydenis, gebed, lofprysing en danksegging in alle omstandighede. Met ander woorde, ‘n regverdige is iemand wat sy of haar afhanklikheid van God vir vergifnis, leiding, vreugde, krag en verlossing deur elke asemteug openlik bely.

Verwante Artikels & Video's