Ons het in die vorige publikasie gepraat oor hoekom ons die opdrag om vir die wêreld te vertel van ons Christen geloof, in woord en in daad, moet uitvoer. Ons kan nie en mag nie daaroor swyg nie. En die logiese gevolgtrekking is dat ons daarmee verklaar dat die Christen geloof uniek is. Maar hoe kan ons so ‘n stelling maak? Ek wil die vraag soos volg stel om juis die belangrikheid van hierdie vraag te beklemtoon: “Daar is baie ander godsdienste. Hoekom is Christenskap dan juis die regte een? Hoekom is Christenskap dan juis die een waaraan elke mens moet aandag gee?“ En die antwoord is dan soos volg: “Wat Christenskap juis so uniek maak. Meer nog, wat dit so belangrik maak om te hoor is dat dit nie ‘n godsdiens is nie.“ Kom ek verduidelik: wanneer ‘n godsdiens gedefinieer word as iets waarin mense iets moet doen om by God, of dan by hulle idee van ‘n god uit te kom, val Christenskap nie in daardie kategorie nie. Nee, Christenskap is juis uniek omdat dit God is wat die inisiatief neem om die mens uit sy dilemma van verganklikheid te red. Die mens kan niks doen om homself uit sy situasie te lig nie. En dit is een van die kern boodskappe van die berg prediking in Matteus 5 tot 7. Jesus maak dit juis daar duidelik dat geen mens daartoe instaat is om by God uit te kom nie. Geen mens is verder daartoe instaat om so te leef dat sy lewe foutloos of sondeloos is nie. Verder: Geen mens is daartoe instaat om tot enige standaard 100% te leef nie, nog minder die standaard van ‘n Heilige Almagtige God. So, wat is Christenskap? Dit gaan oor God wat die geskiedenis binnetree om vanuit Sy genade ons te red deur sy Seun, Jesus Christus. En ons word alleenlik gered deur ons geloof te plaas in Jesus se reddingsdaad wat Hy aan die kruis vir ons bewerk het. Dit is wat Christenskap uniek maak, en terselfdertyd so belangrik maak om die woorde van Johannes 3:16 ten volle te verstaan binne die konteks van die hele Bybel. En ek dink ons moet weer daardie vers lees: “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.“ Ek wil ook net die woorde van Paulus uit Efesiërs 2:8-9 aanhaal: “Dit is mos die genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie,….“ En daarom is dit so belangrik om hierdie boodskap met die hele wêreld te deel. Alle ander godsdienste is mens gemaakte futiele pogings om by God uit te kom. Dit is ‘n mors van tyd. Die Christen boodskap kom daarom as goeie nuus!