As God die heelal en alles daarin gemaak het, wie het dan vir God gemaak? Dit klink na ‘n vraag wat geen basis vir bestaan het nie, maar menige gelowige word dikwels met hierdie vraag konfronteer. Watter advies kan jy vir jou kind of mede gelowige gee rakende ‘n antwoord? Ek dink die eerste punt wat ons moet maak is dat die persoon die bestaan van God erken. Dit lei ons af uit die vraag. Verder word die vraag gevra binne die raamwerk van oorsaak en gevolg. In Engels praat ons van the Law of Causality. Met ander woorde, alles het ‘n oorsaak. Van hard leer kom goeie punte. Van hard oefen kom sterk spiere ensovoorts. Alles wat ons sien het uit iets ontstaan. Anders sou ons moes terug gaan in die geskiedenis in ad infinitum omdat daar nooit ‘n begin was nie. Ons weet tog dit is nie waar nie. Selfs diegene wat die bestaan van God ontken sal erken dat daar ‘n oorsaak iewers in die verlede moes wees vir die heelal en alles daarin. Die Bybel leer ons dat God alles gemaak het. Kolossense 1:16 maak dit duidelik dat alles deur God gemaak is. Alles wat gesien kan word en ook alles wat nie gesien kan word nie. Met ander woorde God is die oorsaak van alles, as ons die oorsaak en gevolg raamwerk wil gebruik. Of as ons dit in Engels sou stel; He is the Uncaused Cause. Hy bestaan buite die skepping. Dink ook so daaraan. Per definisie kan ‘n man wat onsigbaar is nie gesien word nie en daarom nie beskryf word nie.  As ek vir jou vra hoe ‘n onsigbare man lyk is ek besig om die einste aard van die onsigbare man te verander. En sodra ek dit doen is die onsigbare man nie meer die ding waaroor ek die vraag gevra het nie. Daarom, per definisie, die moment wat ek vra wie het God gemaak het ek die karakter van God, die einste wese van God verander en vra ek nie meer die vraag of ‘n vraag oor God nie.

Verwante Artikels & Video's